Voorblad

Wys items op etiket: dankbaarheid

Saterdag, 04 April 2015 23:13

Genade - die sleutel vir 'n dankbare lewe

Hoekom sukkel ons (Christene) so om dankbaar te lewe? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak...

Genade - Die sleutel vir 'n dankbare lewe! Mat.18:21-35 
v.35 “van harte vergewe” = dankbaarheid

Inleiding
      
Ek dink nou al ‘n paar jaar oor die woord “dankbaarheid” en meermale daaroor gepreek en geskryf. Tog bly ek wonder hoekom ons (Christene) dan nie dankbaar lewe nie? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak?

Kan ek jou vra om eers die volgende vrae te antwoord:
Beskryf hoe dankbare mense lyk en lewe?
Wat het jy nodig sodat jy ‘n dankbare lewe kan lei?

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe of dankbare lewe gegee het. 
Alhoewe die woord „Dankbaarheid” nêrens in die teksdeel voorlom nie lyk dit vir my of hier ‚n storie agter die storie is, nl. ’n amptenaar wat nie dankbaar was oor die genade wat hy ontvang het nie. Om meer te verstaan wat “dankbaarheid” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Vertel: Kyk na die prent en probeer vir mekaar die verhaal vertel van die ondankbare amptenaar

1. Ons het hier met drie hoofkarakters te doen.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan ‘n mens doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Soveel om voor dankbaar te wees!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy sy dankbaarheid demonstreer en hom begenadig, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar dieselfde genade gun soos wat hy ontvang het nie. 

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie, wat nie besef hoe dankbaar hy behoort te wees nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar wat sou kon betaal, word nie vergewe nie. Die medeamptenaar word ongenadig hanteer en in die plek van genade kry hy ‘n helse lewe in die  tronk. Dis nou stank vir dank!

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy genade ook weggeneem word – die omvang daarvan raak ook sy vrou en kinders. 

2. Genade is God se sleutel vir ‘n dankbare lewe.
 Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir genade gestel. Jy moet vergewe/begenadig, dan sal God jou genade gee. 

Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

Verbeel jou die doopbak is God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).

Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek die Koning vir vergifnis vir jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar nou stel God ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen. Dis hier wat ons kan sien of god se genade betekenis vir jou het...

Die kruks van die verhaal vind ons in vers 35 waar Jesus sê dat as iemand nie sy broer “van harte” vergewe nie, sal God jou nie vergewe nie!

Die gevolg = dankbaarheid
As jy nie van harte kan vergewe nie – dws dankbaar kan wees, as jy jou verhard en mense nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die (ddaglikse) genadepoel te drink ontneem word – sal die nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en ondankbaarheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy uit dankbaarheid vir jou verlossing jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om elke dag van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag inspireer om dankbaar te lewe!

Twee soorte genade
1. Die eerste soort genade is die genade waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis. Jy het dit gekry omdat jy besef het dat jou sondeskuld grrot is en onbetaalbaar is. Jy het genade ontvang omdat jy vergifnis daarvoor gevra het en jy het jouself aan die Here gewy. Daar was geen voorwaardes nie en jy is aanvaar sonder voorwaardes om eers te verander of heilig te wees.

2. Die tweede soort genade is dit wat ons nodig het om elke dag vrugvol en dankbaar te lewe. Daagliks vra ons daarvoor en dat die Gees ons deur die dag sal lei. Tog gebeur dit dat die genade(water) se krag verdwyn – ons drink elke dag maar ons lewe voel afgestomp. Vers 35 dui vir ons die moontlike probleem aan. Vir die genade om kragtig te werk moet ons ander mense vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook dankbaar kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld – dankbaarheid!
 
Die genade wat ons aan ander betoon is nie sommer maar net vergeet-en-vergewe nie – dit moet uit die hart plaasvind. 

Dit kan net gebeur as jy van harte vergewe  = dankbaarheid

Dankbaarheid is ‘n bewuste besluit!
Jy sal moet besluit of jy werklik dankbaar wil lewe en dit vir jou naaste, dorp,  omgewing en die wye wêreld ook moontlik wil maak om dankbaar te lewe... As dit van ’n dankbaarheidsgevoel afhanklik moet wees sal daar nie veel van kom nie. Net soos die amptenaar pas nadat hy al sy skuld vergewe is ontdek het. Die eerste struikelblok is die mede-amptenaar wat hom geld skuld. Dit oorheers sy emosies em hy vergeet hoeveel hyself vergewe is. 
Dankbaarheid verg ’n doelbewuste besluit waarin jy kom-wat-wil by jou besluit bly. ’n Besluit wat jy sal moet voed met God se Woord, gemeenskap met ander gelowiges en die sakramente.

As amptenare van die Koning sal  jy vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om dankbaar te lewe nadat jy genade ontvang het.  

Normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde te vergewe.
Evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom wat aanloklik gemaak word deur dankbare lewens.

Slot
Hoe belangrik is God se genade vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In die „Ons Vader” (Matteus 6: 14-15 ) bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe genade werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in genade kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie genade uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik met DANKBAARHEID te benader. Genade moet genade gee om dankbaarheid en lewe te bring! Genade is God se sleutel waarmee die dankbare lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van dankbaar – dood!

Kom ons kyk of julle die boodskap vandag verstaan het.
Ek wil nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “dankbaarheid” op die bord te kom skryf/spel. (Wanneer die persoon “dankbaar” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G..E..N..A..D..E..”. )

Die wêreld wil graag vrede vir mekaar gee en gebruik die PEACE-teken. Miskien kan ons dit verander met  die kruis-teken en dan bedoel  demonstreer en bewys ons „Genade”. 

Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om dankbaar te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe. 
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.

AMEN.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Matteus 18:21 35 (35)
  • Bybelboek Matteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

     Gebruik vrae om denke en verwagting vir die boodskap te skep.
    Gebruik doopbak as illustrasie vir God se "Genadepoel".
    Papier en potlode om gedagtes en voornemens op te teken.
    Geleentheid vir oorgawe (opnuut).
    Spesiale dankoffer geleentheid.

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
BAIE WELKOM BY DIE NUWE DOMINEE.ORG.ZA - Die Woord vir almal! Liewe Bedienaar / Luisteraar van Die Woord. Het jy goeie Christelike boodskappe wat iewers in 'n boek, rak of rekenaar lê en stof vergaar in plaas daarvan dat dit mense se lewens verander? Voel jy dikwels dat dit hartseer...

Registreer of teken in om te publiseer en/of kommentaar te lewer en nuus te ontvang

Nog nie 'n lid nie? Registreer

Soekfunksie

Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za

Google+