Bybelstudie

Wys items op etiket: konteks

Wat het ek nodig om Bybelstudie te doen?
Gebed en nogmaals gebed. Ek moet bereid wees om in biddende afhanklikheid deurentyd te bid dat God sy Woord deur die verligtende werking van die Heilige Gees sal oopsluit.
Luk 11:13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
Die Heilige Gees is die eintlike Outeur van die Bybel en daarom kan ons slegs die Bybel verstaan as die Heilige Gees dit vir ons oopsluit.


ʼn Bybel. Dit is baie nuttig om verskillende vertalings (Afrikaans, Engels en ook ander tale wat ek kan verstaan), te gebruik. Probeer om ten minste van ʼn 1933/53-vertaling en ʼn 1983-vertaling gebruik te maak. ʼn Ander nuttige Afrikaanse vertaling is Die Nuwe Lewende vertaling van die Bybel wat in 2006 deur CUM boeke uitgegee is. Verskeie gesaghebbende persone het aan die vertaling meegewerk onder andere Prof. Fika Janse van Rensburg (by die Teologiese Skool Potchefstroom) en Dr. Wim vergeer (leraar van die Gereformeerde Kerk Krugersdorp). ʼn Ander Bybel is die Bybel vir almal (oorspronklik uitgegee onder die titel Die Bybel vir Dowes) wat deur die Bybelgenootskap in 2008 uitgegee is. Hierdie is ʼn Bybel wat in eenvoudige Afrikaans uit die grondtale vertaal is. ʼn Pluspunt van hierdie Bybel is dat dit baie woorde in voetnotas verklaar. Engelse Bybels wat gebruik kan word, is Die NIV (New International Version) en die ESV (English Standard Version) asook The Holman Illustrated Study Bible (beskikbaar by CUM boeke. Hierdie Engelse Bybels is in maklike verstaanbare Engels vertaal.

 

Plaas die teksgedeelte in konteks
Moenie los en vas teksgedeeltes lees nie. Ons begin tog nie ʼn boek in die middel lees en lees dan hier en daar ʼn paragraaf uit die boek nie. Die Bybel is ʼn versameling van 66 boeke wat saam ʼn geheel vorm. Werk dus ʼn boek op ʼn slag deur en sien ook in waar die Boek in die geheel van die Bybel pas.
Probeer bepaal wie die boek geskryf het en aan wie die Bybelskrywer die boek gerig het. (Nuttige bronne in die verband is die Bybel in Praktyk, die Bybellennium  asook Die Bybel A‑Z beskikbaar by CUM boeke). NB NB !!! Beperk egter die gebruik van hierdie bronne tot agtergrondinligting oor die boek. Later wanneer die Bybelteks selfstandig deurgewerk is, kan hierdie bronne weer geraadpleeg word vir verdere insigte en om ons eie insigte te kontroleer.
Probeer ook bepaal wat was die kulturele agtergrond van die eerste lesers van die teks. Wat was hulle spesifieke omstandighede, kwessies en probleme wat hulle gehad het. Dit alles help om die milieu waarbinne die teks gegee is, te verstaan sodat ons kan verstaan wat die outeur vir sy eerste gehoor wou sê.

 

Bepaal die samehang van die teksgedeelte
Hoe pas die betrokke teksgedeelte in by die by die res van die Bybelboek waarin dit voorkom? Met ander woorde: neem in ag waar in die verhaal of brief (Bybelboek) die teksgedeelte voorkom en onthou dat dit nie los staan van dit wat in die res van die Bybelboek geskryf staan nie.
Waar pas die betrokke Bybelboek in, in die res van die Bybel? Onthou God openbaar Homself op ʼn ontvouende manier in die Bybel. Dit is soos ʼn roosknop wat oopgaan. Al die elemente van die blom is in die roosknop teenwoordig, maar dit is nog nie sigbaar nie. Net so is Christus dus nie direk implisiet sigbaar in die Ou Testament nie. Wanneer die roos heeltemal oopgegaan het, is baie meer van die blom sigbaar. Net so moet bepaal word in watter deel in die geskiedenis van God se openbaring kom die betrokke teksgedeelte voor.

 

Bepaal die literatuursoort (genre) van die teksgedeelte
          (bv. is dit ’n verhaal of is ’n gedig?)
Bepaal ook watter tipe teks ons hier mee te make het. Is die verhalende stof, ʼn brief, poësie, profesie of wetstekste? ʼn Enkele voorbeeld om te verduidelik. As jy die koerantopskrif van ʼn berig sou lees: “Die Haaie het die Bulle die naweek gevreet”, sal jy dit heeltemal verkeerd verstaan as jy nie die konteks in ag neem dat dit in die sportbladsye van die koerant geskryf staan of verder nog dat die berig handel oor twee Suid-Afrikaanse rugbyspanne nie. As jy maar sou sê, “ek lees net letterlik wat daar staan” dan sal jy wonder of daar ʼn klomp bulle in die see geswem het en nie die ware betekenis van die sin verstaan nie. Ons moet dus ook nie die Bybel op so ʼn verkeerde manier lees nie!

 

Bepaal wat daar geskryf staan
?  Is daar enige woorde waarvan die betekenis nie duidelik is nie?
?  Is daar enige sinne wat ʼn doel of rede aandui?
?  Is daar enige sinne wat ʼn bietjie meer verduidelik van iets wat reeds genoem is?


Wat word in hierdie paragraaf duidelik oor God self?
Die onderstaande tabel is ʼn handige hulpmiddel vir hierdie sleutel:
 

Eksplisiet
(M.a.w. dit staan in soveel woorde daar)
Vader
(Skepper, Onderhouer, ....)
Seun
(Verlosser, Saligmaker, ...)
Heilige gees
(Troos, Hulp, .....)
Wie is Hy?
   
Wat doen Hy?
   
Wat Hy?
   
Implisiet
(M.a.w. dit staan nie in soveel woorde daar nie, maar dit word wel geïmpliseer)
Vader
(Skepper, Onderhouer, ...)
Seun
(Verlosser, Saligmaker, ...)
Heilige gees
(Troos, Hulp, .....)
Wie is Hy?
     
Wat doen Hy?
     
Wat Hy?
     

Wat openbaar God aan ons in die gedeelte (wat vertel Hy vir ons )?
Beveel God ons spesifiek (eksplisiet of impli
siet) om iets te doen?

Maak God enige beloftes aan ons?


Wat openbaar God op ander plekke in die Skrif oor die betrokke teksgedeelte?
Die beginsel is om die voor die hand liggende betekenis van die teks te neem en nie ʼn verskuilde onlogiese betekenis wat teen die grein van die teks ingaan nie. Verder gebruik meer verstaanbare tekste om te verstaan, met ander woorde moenie ʼn maklik duidelik teks verklaar met ʼn minder duidelike teks nie. Doen dit juis anders om.


Bepaal wat is die sentrale boodskap van die teks.
Onthou: vra wat is die oorspronklike betekenis van die teks, eerder as om die teks as ʼn kapstok vir jou eie gedagtes te gebruik. Moenie soos sommige koerantmanne maak nie! Hulle laat nie toe dat die feite in die pad staan van ʼn goeie storie nie! Moenie jou eie gedagtes in die Bybel inlees nie. Met ander woorde : Wat het God hiermee vir die eerste lesers gesê? Verder moet ook bepaal word voor watter geloofskeuses hierdie teks die eerste hoorders gestel het.


Bepaal hoe ek dit wat God vir my in die teks gesê het, gaan toepas in my lewe
Wat moet ek doen?
Wanneer moet ek dit doen?
Waar moet ek dit doen?
Hoe moet ek dit doen?
Voor watter geloofskeuses stel hierdie teks my (met ander woorde wat moet ek in my lewe verander of doen om my lewe in lyn te bring met God se wil vir my lewe?)

  onderrig   die leer   iets
God oortuig   gelowige glo   spesifiek
  motiveer   om te doen   as doel


Nota:
Indien hierdie riglyne vreemd is, moenie daaroor bekommer nie. Ons gaan tydens die Bybelstudie prakties inoefen hoe om dit te gebruik. Aanvanklik mag dit omslagtig lyk, maar soos ons dit gebruik en toepas, sal dit al hoe makliker word.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Lukas 11:13
  • Bybelboek Lukas
  • Bronverwysings

    Bogenoemde is bedoel om maar net ʼn paar praktiese riglyne te verskaf en nie om ʼn volledige uiteensetting te wees nie. Die volgende boeke kan handig te pas kom vir die persoon wat in meer diepte oor die onderwerp wil lees:
    ºDie Bybel A-Z: Die hoofstuk “Hoe moet ʼn mens die Bybel Lees” p29
    ºDie Bybellennium: Die bylae op p1810 Met een oogopslag oor die Bybel.
    ºDie Bybel in Praktyk: Die tussen-testamentêre tyd p1354; Die gebruik van die Ou Testament in die Nuwe Testament. P1362; Waarom juis hierdie 66 boeke DIE Bybel is. p1364. Die Nuwe-Testamentiese apokriewe boeke. P1365; ʼn vergelykende tabel van die vier Evangelies. p1638; Tematiese konkordansie. p2026.
    ºHennie Stander se gids: Om jou Bybel beter te verstaan. 52 Sleutels om God se boodskap in sy Woord te ontsluit. 2003. Carpe Diem Media.

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
Gepubliseer in Bybelstudie
Google+