Preek
Saterdag, 04 April 2015 23:24

Hoe moet ek régtig glo?

Geskryf deur 
Beoordeel die item
(1 Stem)

Jeremia tree op 100 jaar na Jesaja. Gebore uit ‘n priesterlike gesin in Anatot en in 627 v.C. geroep as profeet van God. 40 jaar lank tydens die regerings van Juda se laaste vyf konings waarsku Jeremia hulle teen die komende rampspoed en doen hy ‘n beroep op die volk om hulle te bekeer. Na die dood van die godvresende koning Josia in 609 v.C. vererger die politieke toestande en Juda is vasgevang tussen die twee strydende wêreldmoonthede: Babilon in die noorde en in die suide Egipte. Jeremia probeer tevergeefs die koning oorhaal om hom by Babilon te skaar. Nebukadneser (Babilon) oorwin Egipte en in 587 val hy Jerusalem binne en verwoes die tempel en stad en voer die volk weg in ballingskap.

Jeremia die uitgeworpene
Jeremia is uit die priestergeslag van Anatot. Die priesters van Anatot is die nageslag van Abjatar wat deur Koning Salomo verban is nadat hulle saamgesweer het met Adonia om in sy plek koning te word.

Jeremia het ‘n moeilike taak gehad – hy is uit ‘n familie wat verban is, sonder aansien en regte, maar die Here vind dit goed om hom te roep om by die koning te gaan profeteer.

Die Here roep Jeremia om teen die volk en koning te profeteer. Hulle het in sonde geval en leef ver van die Here. Verder moet hy die koning aanraai om liewer saam te span met Babilonie ipv Egipte – en dit was nie ‘n gewilde boodskap by die koning ne.

Die gevolg is dat Jeremia se eie familie hom om die lewe wil bring. Hulle is bang as hy die koning kwaad maak dat hulle finaal vernietig en doodgemaak sou word. Hulle probeer Jeremia dus doodmaak voordat hy die lewe vir hulle kan moeilik maak…

Jeremia kla by die Here
Nou kla Jeremia by die Here.
* Waarom is die goddelose mense – die wat sy lewe soek – so voorspoedig?
* Waarom is die ontrou mense se lewens so rustig?

Kom ons verander sy vrae in gewone Afrikaans.
Here, waarom gaan dit goed met die goddelose mense maar met MY, U kind, gaan dit so sleg? Waarom kan ek nie ook so rustig leef, sonder kommer en vrees soos hulle nie?
Here waarom is die gras aan die anderkant van die draad altyd groener?

Ek dink as daar ooit iemand is wat rede gehad het om sulke vrae te vrae was dit Jeremia. Hy leef vir die Here en wil net goed doen, maar die Here verwag moeilke en lewensgevaarlike werk van hom…

Die Here antwoord Jeremia
In Jer.12:5 antwoord die Here vir Jeremia.
In gewone taal beteken die versie niks goed vir Jeremia nie. Die Here spot amper met Jeremia. As hy nou al kla oor die taak wat die Here hom opgelê het, wat gaan hy doen wanneer die Here meer en moeiliker en gevaarliker take verwag?
* Jeremia, dit sal nog erger word – jy loop met voetsoldate en kla oor die onreg, maar jy gaan nog hardloop dat jou tong uithang!
* Jy kla oor jy onveilig voel maar Ek gaan jou nog stuur na die pronkbosse van die Jordaan, daar waar dit rof en gevaarlik is en die rowers en wilde diere bly. Die doringbosse sal maak dat jy nie kan wegvlug nie…


* Jy skrik vir jou familie wat jou wil doodmaak, maar daar gaan nog baie wees wat jou lewe sal soek…
Op die oog af lyk dit of die Here nie baie simpate en vertroosting vir Jeremia het nie. Ons verwag dat Hy eers vir Jeremia sou paai en bemoedig met beloftes dat dit môre beter sal gaan, maar dit gebeur nie. Intendeel, dit kom voor of die Here spot met sy vrees en vertel hom dat dit wat hy nou beleef niks is met wat voorlê nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper na hierdie raaiselagtige antwoord van die Here! Is daar nie dalk ‘n dieper betekenis nie?
Hoekom spot die Here met Jeremia? Want Jeremia sien net hierdie gevaar en oormag en onreg teen hom raak maar sien nie die eintlike gevaar en oormag raak nie…

Dit is so dat hier ‘n ongelyke stryd aan die gang is, maar nie soos Jeremia dink nie…

Vir voetsoldate om ten perderuiter-soldate te veg is eintlik onmoontlik. Dit is soos om teen ‘n oorlogstank te probeer veg. Die stryd is duidelik ongelyk. Dit is soos dit vir Jeremia… en dikwels vir ons voel…

Maar die Here probeer eintlik vir Jeremia wys op ‘n ander ongelyke stryd…
Wie is groter as die soldaat te perd.. of groter en sterker as die tank?
Ja, God, die Almagtige! Geen mens, oorlogsmiddel, land volk of koning kan iets aan Hóm doen nie. God is overgelykbaar groter as die skepping en skepsels.
DIT is die eintlike ongelyke stryd wat Jeremia behoort raak te sien…


Nie sy eie lot teen die gevare en take wat hy moet trotseer nie, maar wel die gevaar vir dié wat God teenstaan en rustig leef asof Hy geen mag het nie, en wie God se kinders laat swaarkry.


Daar is genoeg ander bewyse in die Bybel om vir ons te sê dat die Here wel sal oordeel oor die goddelose en dat ons moed moet hou!

Wat is ware geloof?
In Hebreers 11:1 word vir ons vertel wat geloof is. Jeremia moes dit met sy eie lewe beleef wat ware geloof is.
Dit is nie om te glo dat alles môre beter sal gaan nie.
Dit is om te glo dat God groter en magtiger is as enige-iets wat op my pad lê.
Geloof in God is dus nie om te hoop dit sal môre beter gaan nie, maar om in die gevaar gehoorsaam aan God te bly, al verstaan ek nie, ek moet leef en doen soos Hý verwag! Waar ons in opdrag van God leef, daar sal Hy met ons wees met sy groot Almag! Al sien die wêreld dit nie raak nie.


Die Here het nie vir Jeremia probeer verduidelik en paai nie, Hy het net gehoorsaamheid van Hom verwag…

Jeremia, hou op kla en leef die lewe wat God van jou verwag – Hy is met jou!

Ja, die lewensstryd is ongelyk.. wie kan ten God opstaan en dit oorleef?

Hoe lyk jou geloof?
Ons kla so dikwels oor ons lot en sou graag beter wou hê. Maar vergeet gerieflik wat God beleef wanneer sy skepsels in opstand teen Hom kom, soos sy eie volk Juda wat nie wou luister nie en saam met Egipte gespan het en gevolglik hul vryheid en tempel en land verloor het en beheer is deur die heidense Babiloniese volk.

Wat nog erger is as ons besef dat God hulle probeer warsku het deur Jeremia en deur baie ander profete – maar hulle wou nie hoor nie en moes die gevolge dra.

Hoe behoort my geloof te lyk? Ek moet die dieper waarheid en prentjie raaksien. Daar buite s ‘n goddelose en rustige wêreld wat onder die oordeel van God staan en as ek en jy as kinders an die Here nie soos ‘n Jeremia ons deel begin doen en gehoorsaam aan God is, soos Matteus 28:18,19 ons vertel om te doen nie, dan sal die wêreld geoordeel word en verlore gaan!

My gehoorsaamheid aan God wys die wêreld wat my keuse is! 
Daarom is jou en my gehoorsaamheid aan die Here, ten spyte van die swaarkry en onreg wat ons (dink) ons beleef, juis die teken wat die wêreld na smag!
Kinders van die Here wat hul geloof in God, die Almagtige, uitleef en demonstreer word ‘n hoop vir die wat andersins verlore sou gaan!

My gehoorsaamheid aan God demonstreer my geloof… Nee, demonstreer die Almagtige God!

Watter kant kies jy vandag? Om te kla teen die onreg en oorspoed van die goddelose en hulle toe te laat om verlore te gaan?
Of
Om die Here te dien en te gehoorsaam en te volg want ek weet dit sal die goddeloses help om gered te word – soos ek!

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16): Jeremia 12:1 11 (5)
  • Bybelboek: Jeremia
  • Voorgestelde liedjies & musiek:

    Gebed: Psalm 139:23-24
    Musiek: Liedboek 218:1,2; 523.

  • Bronverwysings:

    1. 1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
    2. Handboek by die Bybel (Hersiene uitgawe) 2de druk 1991 (fotos)

  • Tydsduur (bv. 15 min): 60 minute
  • Kalender (periode): Koninkrykstyd
Lees 14086 keer
Dirk C Lourens

Gelukkig getroud, twee wonderlike besige jong volwasse kinders, gekreukel, grys en dikkerig maar geniet die lewe en die kanse wat God my gee soos nog nooit tevore!

Webtuiste: www.eKaya.co.za www.dominee.co.za www.studietrust.org.za www.christiancatalog.co.za
Google+