Preek
Sondag, 10 Januarie 2016 16:07

Woorde soos heuning Spesiaal

Geskryf deur 
Beoordeel die item
(0 Stemme)

Skuifie 1: Dikwels vertoon die Kerk eerder haat as liefde

Inleiding
Ek het in ‘n huis grootgeword waar dinge reguit gesê is. As iets goed was, dan was dit goed, as dit sleg was, is dit so gesê. Doekies omdraai nie en mooi woorde was maar beperk. Ek het groot geword asof dit die Afrikaanse of Boere manier van doen is -dit was ons kultuur. Ja, selfs in die kerk. Hoe anders? Ons kultuur en kerk was nou ineengestrengel. Ek onthou hoe ons geleer was dat ander kerke wat nie soos ons is en dink nie verkeerd of ketters was en vermy moet word. Pa het geleer dat jy jou buurman beskerm van die sektes deur hulle kwaad te maak en te verjaag. Dit neem hulle 'n ruk om tot verhaal te kom en weer te ontspan en ‘n buurman na die verderf lei...

Onthou die gemeentevergaderings (vandag noem ek dit sommer gevegte) of vroue nog hoede in die kerk moet dra? (Ek was vroeg laerskool.) Ek onthou nie die teogiese beredenerings en saam soek na ‘n antwoord nie. Nee, ek onthou hoe kerkmense mekaar aangevat en gedreig het. Nou dat ek daaroor nadink onthou ek die episodes of Halalelujas in die kerk gesing mag word, of vroue langbroeke kerk toe mag dra? Later toe ek groter is selfs aangevat oor die baadjie net te veel vir my geword het… Moenie vergeet van die oopstelling van die kerk vir alle rasse nie! Toe was die gort gaar en Broers en Susters in die Here het mekaar openlik aangevat, sleg gesê en selfs verdoem.

Nou gebeur dit weer...
Die hele debat oor selfde-geslagverhoudinge. Hierdie keer sien jy groot aggressie onder sommige kerkmense – aan alle kante. My predikant ontvang dreigbriewe van gemeentelede en as ons sprekers oor die onderwerp reël dan kom skitter die dreigendes in hulle afwesigheid.
Vergete is die woorde in Spreuke “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af”.  

Wat maak dat ons so onverdraagsaam met mekaar is? 
Romeine 12:1-2 herinner ons tog dat ons heilig lewe en dat ons gedagtes hernuwe moet word. Dit lyk my hoe meer ons mekaar vermaan en preek oor liefde vir mekaar en ons naaste hoe meer bereik ons die teenoorgestelde?

Ek dink die vernuwing waarna Paulus hier verwys kan net gebeur as ons ten minste die volgende drie dinge doen. Begin by ernstige ondersoek van God se Woord en tweedens by opregte selfondersoek en dan ‘n bewustelike besluit en doelbewuste oefen om my eie optrede te verander.

Skuifie 2:  Ef.4:29-32

1.    Onsersoek God se Woord: Lees Ef.4:29-32
29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. 30 En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. 31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (NAV, 1983)

Skuifie 3: Vrae wat pla!

Kry gehoor denkend met vrae uit vers 29. 

* Wanneer is woorde?
        “vuil”
         “goed en opbouend
        “ ... volgens die eis van omstandighede” 
        “...hoorders ten goede kan kom”

* Laat die gehoor voorbeelde noem van geselskappe wat mense aftakel en ontmoedig 
en voorbeelde van geselskap wat mense ophef en versterk. 

Die oorspronklike woorde λογος σαπρος beteken letterlik “vrot woorde”. Hier spesifiek verwys dit na veral groente of diere produkte wat afgaan en verrot. As een stuk groente begin verrot dan steek dit die ander rondom aan. Só breek ons afbrekende en vuil woorde ander mense rondom ons af, maak hulle depressief en negatief.

Skuifie 4: Wys video van groente wat vrot. (Youtube: https://www.youtube.com/watch?v=c0En-_BVbGc)

Dit gaan hier oor alle woorde wat aanvallend is en wat bedoel is om mense met vrotheid of sonde te infekteer.

Dit is die teenoorgelstelde van wat Kolossense 4:6 ons vra: "Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”

Hierdie woorde wil die mens aan wie die woorde gerig is wegkeer van korrupsie en agteruitgang en liewer preserveer in ‘n goeie staat. Soos sout wat kos preserveer en smaaklik maak.

Interesant dat Paulus dit verder moet verduidelik in vers 31 asof ons nie die volle impak van ons woorde besef nie en noem dat opvlieëndheid, woede, vloek en skel en alle dade wat sleg of sonde in die oog het ingesluit word. Al hierdie dinge veroorsaak dat mense “afgaan en vrot” word. 

Sou ons daarmee voortgaan, sê Paulus in vers 30, dan bedroef ons die Heilige Gees! Om die HG te bedroef is om Hom van ons af weg te dryf met ons verrotheid en stank-gerigte woorde. Net soos wanneer jy ‘n vriend seermaak met jou woorde en hy trek weg en ontwyk jou. Ons maak die HG seer wanneer ons mense seermaak en Hy kan dieselfde doen as die vriend – jou verlaat en jou aan jou lot oorlaat!

Skuifie 5: Jou woorde wys of jy besig is om aan God se Beeld gelyk te word

Paulus gee Christene praktiese riglyne vir 'n moderne wêreld en wil ons help dat ons alle gebruike en gewoontes wat nie Christus se liefdesvoorbeeld volg nie sal verwerp en vervang met gebruike wat ons al meer na God se beeld sal laat lyk (v24) “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

“Heilig” vra juis dat ons nie soos die res van die wêreld met haat en negatiwiteit sal optree nie. Ons verwag dat God anders sal optree en ons genadig sal wees, al verdien ons dit nie.

Die impikasie volgens vers 29 is dat die tong of die woorde wat ons praat soos ‘n gawe of instrument van God is aan die mens, wat die mens help om soos God te wees en te leef en God selfs te verteenwoordig. Dis dieselfde instrument wat God gebruik om ons mee te leer, te bemoedig, te vermaan en sy liefde vir ons te verklaar - "Die Woord" (God se woorde vir die mens). 

Ons woorde en dade moet dieselfde bereik en bedoel as wat God se Woord met ons bedoel sodat ons mense kan oortuig om vir ewig by God te wil lewe en wees!

Skuifie 6: God “spreek” ons vry van oordeel

Die tweede deel van vers 30 bevat 'n belangrike leidraad waarom ons God op 'n besondere en heilge manier moet verteenwoordig. “...want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag”.

Net soos God ons verlos en vrygemaak het van die oordeel op die verlossingsdag moet ons woorde en dade mense by verlossing en vrede met God bring. 

Ons is deur God se woorde en sy verlossingsdaad in Christus vrygespreek. Die gevolge van sonde en die verrotheid van die wêreld sal ons nie raak nie. Ons woorde en dade moet dus nie mense mislei weg van God se ganade nie. 

Skuifie 7: Ef.4:32

Twv die genade vir julle hoorders.
Vers 32 "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” behoort saamgelees te word met die laaste deel van vers 29 “sodat dit julle hoorders ten goede kan kom”

In Grieks beteken dit letterlik “ter wille van die genade vir julle hoorders”. Verder word die griekse woord garis (genade) ook gebruik om ons te herinner dat wat ons ookal sê en doen kan ons medemens se genade en belewenis daarvan bepaal. 

Goeie woorde kan God se genade oor mense bring. Slegte woorde en gesindheid kan hulle na die verdoemenis lei. 

Skuifie 8: 2. Self-Onsersoek (wys die vrae hieronder of maak stel jou eie op)

2. Self-Onsersoek

Hoe dikwels het ek iemand seergemaak of afgebreek, selfs verkleineer of gekritiseer?
Hoe dikwels was ons ongenadig en hard met iemand?
Hoe dikwels was ek vulgêr teenoor iemand?
Hoeveel mense het ek die week mislei?
Hoeveel maal het ek mense agter hul rug beskinder of stories van vertel?

Hoeveel mense het ek bemoedig of gebou en hulle selfbeeld probeer verbeter?
Het ek gewonder wat die ander person se werklike behoefte was voordat ek sommer raad gegee het?

Paulus vra dat ons woorde waardevol sal wees vir dié wat dit aanhoor! So waardevol dat dit hulle mag behou (preserveer) vir die wederkoms.

Skuifie 9: Woorde van vergifnis, 'n nuwe begin, die opskort van oordeel, liefde in plaas van haat, is alles moontlik omdat Jesus gekom het.

Afsluiting
 (lees die volgende ware gebeurtenis)

Woorde van vergifnis, 'n nuwe begin, die opskort van oordeel, liefde in plaas van haat, is alles moontlik omdat Jesus gekom het. Dit is 'n geskenk van God, deurdat God ons wêreld in die koms van Jesus as Mens aangeraak het.

Maake Masango, voormalige moderator van die Presbiteriaanse kerk in SA, vertel hoe vergifnis en 'n nuwe begin grondgevat het in ons land.
Maake se ware verhaal gaan oor 'n bejaarde Suid-Afrikaanse vrou in 'n hofsaal. Sy het pas geluister hoe lede van die polisiemag die gruweldade erken wat hulle in die menseregtestryd in SA gepleeg het. Polisieman Van de Broek het verantwoordelikheid vir die dood van haar seun aanvaar. Saam met ander het hy haar seun op kort afstand doodgeskiet. Hy en ander het daarna partytjie gehou terwyl hulle die dooie se liggaam tot as verbrand het.

Agt jaar daarna het Van de Broek en sy makkers gekom om haar man te kom haal. 'n Rukkie later het hulle haar opgelaai en na 'n hoop hout geneem waarop haar man vasgebind was. Sy was gedwing om toe te kyk terwyl hulle petrol oor sy liggaam gooi en hom aan die brand steek. Haar man se laaste woorde was: "Vader, vergeef hulle.„

Nou het Van de Broek uiteindelik voor die regbank beland. Alles is in die oopte. Die kommissaris van die Waarheids- en Versoeningskommissie vra die bejaarde vrou wat sy wil hê. "Drie dinge," sê sy. "Ek wil hê mnr. Van de Broek moet my neem na die plek waar hulle my man verbrand het. Ek wil die stof gaan bymekaarmaak sodat ek hom 'n behoorlike begrafnis kan gee.
"Tweedens het mnr. Van de Broek al my familie van my weggeneem. Ek het net my man en seun gehad. Ek wil hê hy moet twee keer per maand na my huis kom en die dag met my deurbring, sodat ek vir hom 'n moeder kan wees. Ek wil die liefde wat ek nog in my oor het op hom uitstort.

"Derdens wil ek hê mnr. Van de Broek moet weet God het hom vergewe, en ek vergewe hom ook. 
Ek wil hê iemand moet my nou help om na hom te stap, daar waar hy sit, sodat ek hom kan omhels en hom kan verseker my vergifnis is waar en eg."
Terwyl die hofordonnans die bejaarde vrou na Van de Broek begelei, het hy flou geword. Iemand het "Amazing Grace" begin sing. Stadig maar seker het almal begin saamsing.

Vergifnis is moontlik, selfs vir die grootste sondaars.

(Verhaal uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15 en 2015-16)

Dit is woorde wat gesondmaak, wat heelmaak, wat lewens preserveer!

3. Besluit en leef (Gebed)
Lees die woorde of speel die lied as die gemeente se antwoord op die boodskap.
F53. Mag Elke Woord Wat Uit My Mond Kom (RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Gebed / Votum) Teks en Musiek: Ioannis Dekas © 2000 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1) 

Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning 
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou 
Elk’ onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink, 
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer 
Want U's my God, U’s my Redder U’s my vrede. 
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind U is my kompas, 
u Woord gee rigting wanneer ek verlore raak. 
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat 
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees. 

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16): Efesiërs 4:29 32
  • Bybelboek: Efesiërs
  • Tydsduur (bv. 15 min): 60 minute
  • Kalender (periode): Advent
Lees 19910 keer Datum verander Saterdag, 30 Januarie 2016 18:14
Dirk C Lourens

Gelukkig getroud, twee wonderlike besige jong volwasse kinders, gekreukel, grys en dikkerig maar geniet die lewe en die kanse wat God my gee soos nog nooit tevore!

Webtuiste: www.eKaya.co.za www.dominee.co.za www.studietrust.org.za www.christiancatalog.co.za
Google+