Preek
Donderdag, 25 April 2019 13:41

Geloofsoë

Geskryf deur 
Beoordeel die item
(0 Stemme)

Sondag 7 April 2019: Escombe.

1. Voorafsang

2. Afkondigings

3. Verwelkoming
‘n Hartlike goeie môre aan elkeen van u hier teenwoordig. Dit was gister, (6 April 2019) presies 367 jaar gelede toe ene Jan Anthoniszoon van  Riebeeck met sy drie bootjies (Drommedaris, die Reiger en die Goede Hoop) teen Tafelberg vasgery en toe net daar gebly het. Party mense sê vandag met heelwat seer in die hart: “Ai, miskien moes hy liewer verbygehou het”. Jan van Riebeeck is gebore op 21 April 1619 in Culemborg, Nederland en het gesterf op 18 Januarie 1677 in Batawië in die destydse Nederlandse Oos Indië. Deesdae is dieselfde plek Jakarta in Indonesië. Hy was die stigter van Kaapstad in 1652, maar die belangrikste feit vir ons vanoggend is die feit dat hy ‘n Christen was. Hy was die eerste ou wat aangedring het daarop dat ‘n ouderling nie dit mag waag om sy eie preek te preek nie – hy moes iemand anders se preek aflees! Wat sal ek nou sê?


4. Votum.
Op hierdie 6de Lydens Sondag kom groet ek u graag in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees wat binne-in elkeen van ons teenwoordig is en vir ons kom intree by die Vader. In die woorde van die klein ou seuntjie, Samuel wil ons ook vanoggend kom sê: “Spreek Here, u dienskneg en diensmaagd  luister”. En ons wil verder kom sê: “Ons is hier omdat ons hier wil wees. Ons is hier omdat ons onsself in hierdie gewyde uur wil kom afsluit van die wêreld daarbuite. Ons is hier omdat ons vir U hier wil kom ontmoet, en omdat ons wil hoor wat U vir ons wil kom leer”
 
5. Laat ons nou tot ons Hemelse Vader bid.
Here, saam met die duisende oor die hele wêreld wat vanoggend saam vergader, wil u kinders ook vir U kom sê: "Ons wil U kom loof,  en prys".  Here, ons wil U loof in die hoogste hemele,  maar ook vandag hier in Escombe.  Ons wil ook opkyk en kom sê – Ek weet Hy's die redder,  die Verlosser van die wêreld. Ons wil vir U dankie sê vir u liefde; U wat ons elke dag vergewe,  en met ons oor en oor en oor weer van vooraf begin. Dat U nie vir ons keelvol raak nie, gaan ons verstand te bowe! Dankie vir u genade en toetrede in elkeen van ons se lewe.  Here,  ons dink vandag aan mense wat dalk hartseer beleef, en miskien troos nodig het.  Ons bid vir u aanraking vandag vir iemand wat dalk daardie besondere bewussyn van God in sy/haar lewe net so intens nodig het. Ons bid vir wysheid en krag vir ons elkeen se pad vorentoe. Ja Here, net soos ek, is daar verseker ook andere wat nie herwaarts of derwaarts weet met die korrekte optrede en advies in gevalle waar familielede en vriende die spreekwoordelike kluts kwytgeraak het nie. Miskien iemand wat, teenstrydig met ons Caliviniste opvatting besluit het om vir ‘n tweede keer gedoop te word.
 
Ons vra maar net vir U, kom seën vir ons as ons vanoggend u Woord gaan oopmaak. Here, gee dat ons hier sal uitstap vandag, en sal weet,  die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees was hier teenwoordig; langsaan my, onder my, binne-in my en bokant my. Baie dankie dat U vandag hier tussen ons verkeer. AMEN.

6. Oudergewoonte gaan ons nou sing tot eer van die Here, maar ek wil myself graag ernstig in die rede val met die opmerking dat niks uit gewoonte in die kerk gebeur nie. Nie die doop van ‘n babatjie nie, en ook nie sang nie. As ons derhalwe ons eredienste begin deur te sing, dan doen ons dit omdat dit ‘n integrale, onmisbare deel van ons Godsdiensbeoefening is en omdat dit van ons as Christene verwag word. Ene Ben Sirag het in sy boek wat reeds in die jaar 190 VC geskryf is, gesê: “Ruik lekker soos wierook en blom soos hierdie lelie in my hand. Laat die lekker reuk versprei! Sing ‘n lied om die Here te prys”. So, of jy nou vals sing en of jy nou sing met die stem van ‘n Gé korsten – kom laat ons doen soos Adam Small in sy gedig gesê het: “Ko’ lat ons sing”.
Ek het ‘n klompie jare gelede ‘n sangbundeltjie gepubliseer – en presies dit wat ek nou vir u gesê het omtrent Adam Small was dit wat Ds Tiaan Jordaan in die Voorwoord tot my boek gesê het. Dankie Ds Tiaan.
 
Ons sing nou saam uit Lied no 207:  Verse 1 en 4. “Eer aan die Vader wat alles gemaak het”
 
Sjoe, ek hoop werklik daar agter in die kerk het dit ook so mooi geklink soos hier waar ek staan. Mag die Here ook vandag werklik geloof word.
 
7. Wet
Geliefdes, as ons in die erediens die Tien Gebooie of die opsomming van die Wet lees, dan is dit omdat lofprysing en die werklike lewe hand-aan-hand loop. Dit omvat die hele lewe.
En, weet u, dit gebeur nie net in die erediens nie, maar dit is 'n hele lewe wat geleef word voor die aangesig van God.
Maar nou is dit belangrik dat ons sal verstaan dat as ons luister na die Tien Gebooie, of na die opsomming van die wet, dan luister ons nie in die eerste plek na dinge wat ons moet doen nie. Wat hoor ons in die wet? Ons hoor wie God is, en ons hoor wie ons is.
Daarom begin die Tien Gebooie met die woorde: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.”
En in Markus 12, as 'n skrifgeleerde vir Jesus vra wat is die heel grootste gebod, dan antwoord Jesus hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
 
8. Geloofsbelydenis
Ons gaan nie vanoggend baie formeel wees met ons skuldbelydenis nie. Ons sê net vir mekaar: “Sonde is soos ‘n man se baard wat aanhou groei. Vra maar vir my! Dit het al in St 6 begin! Jy kan hom vroeg in die oggend so te sê in die kiem smoor met ‘n skerp Minora Blade (gespel B..l..y..t), maar glo vir my – in die middag steek hy weer kop uit. Hy gee nooit moed op nie. Daarom moet ons ook gereeld hard daaraan werk om die sonde in ons lewens “kortgesnoei” te hou. Dit kan ons net vermag deur ons sondes voor God te bely en om skuldvergifnis te vra. Daarby kan ons vir mekaar sê: ”Kom terug na die Here toe en hou op sonde doen”
 
1 Konings 2 vers 3 stel dit vir ons baie duidelik. “Hou jou aan dit wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte,  sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die Wet van Moses.  Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan.

Ons is haastig oppad na Paasfees 2019.  Die kerk loop in hierdie tyd saam met Jesus op sy pad wat op goeie Vrydag wreed ge-indig het op ‘n koppie by Golgotha. Ons bevind ons saam met Jesus op sy laaste reis vanaf Nasaret na Jerusalem. Suidwaarts stap ons saam met Hom tot waar die Jordaanrivier in die meer uitloop. Van daar af loop ons Suidwaarts al met die rivier langs in `n gebied wat as Perea bekend bestaan het.
 
Naby die dooie see is ons oor die Jordaanrivier om via Jerigo uiteindelik by Jerusalem uit te kom. Ons het gesien hoedat Jesus sy dissipels nader roep en vir hulle vertel dat Hy na Jerusalem gaan om deur die priesterhoofde en Fariseërs oorgelewer te word om bespot, gegésel en gekruisig te word.  Sy dissipels het dit ignoreer, want hulle was te besig met hulle eie selfsugtige ambisies.

Vandag loop ons saam met Jesus op die pad naby die dorpie Jerigo.

9. Ons Skriflesing kom vanoggend uit Markus 10:46-52. Ek lees uit die ’53 vertaling.
“En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en 'n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig! En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabboeni, dat ek mag sien. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg”.

In Jesus se tyd was Jerigo `n juweel in `n dorre landskap. Joséfus, die geskiedskrywer van Jesus se tyd sê dat as dit in die winter in Jerusalem koud was; dan was dit nog heerlik warm in Jerigo. Ons kry mos hier by ons dieselfde verskynsel. Hier in Escombe vrek ons van die hitte; en dan is dit koud in Hillcrest! (Plaas vye op skerm). Daar was goeie landbougrond wat goeie oeste ingebring het van vye, en sitrus en dadels. Dit laat mens se mond water, nie waar nie; veral daai lieflike nagemaakte adamsvye; soos in die Kaap, waar ek in Skilpadgat grootgeword het.

Soos wat Jesus deur Jerigo gestap het, moes dit hom sekerlik aan baie dinge van sy aardse bediening herinner het. Dit was min of meer hier waar Hy sy aardse bediening begin het. Dit was net wes van Jerigo wat Jesus vir veertig dae in die Woestyn versoek was. Onthou u nog?

By Jerigo het `n klomp mense rondom Jesus begin saamdrom. Hulle het gehoor van die “groot profeet” van Nasaret en hulle wou hom sien. Hulle wou hom hoor praat. Maar nie almal kon sien nie! Want terwyl Jesus saam met die skare aan beweeg met die pad, is daar skielik `n geskreeu van die kant van die pad af.  Dit was nie 'n goedgemanierde roep nie - die woord wat hier gebruik word om die geskreeu te beskryf is die Griekse woord “krazo” wat op 'n noodkreet kon dui. Dieselfde woord word gebruik om na `n vrou in barendsnood se skreeu te verwys. So, nou weet die dames presies waarvan ek praat!

Dit kan ook vir die geskreeu van geestesversteurde mense gebruik word.  Met ander woorde, nie `n vriendelike geroep nie, maar `n desperate geskreeu!  "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Die mense in die skare het na die blinde man gedraai en hom probeer stilmaak. Dit is mos wat ons almal doen : “vir wat skreeu jy so? Sies man, `n ordentlike mens skreeu nie so nie! Bly stil!” Maar hierdie blinde man het net mooi niks gehad om te verloor nie. Vir jare het hy elke dag na die pad toe gestrompel, daar in die warm son gesit in die hoop dat iemand tog net vir hom 'n ou aalmoesie sou gee waarvan hy kon lewe. Daar was 'n desperaatheid in sy geskreeu, want hier was hoop! `n Nuwe kans! Verlossing! “Man, na die duiwel met die mense! Ek gee nie om wat die mense van my dink nie! Ek het Jesus se hulp nodig en ek het dit nou nodig; miskien kom Hy nooit weer hier by Jerigo verby nie! Ek sal skreeu as ek wil!

En dan gaan Jesus staan. En Hy draai na die blinde man toe. Bo al die rumoer van die mense rondom Jesus het hy die geskreeu van `n desperate man gehoor! En Hy sê: "Roep hom nader." Toe die mense na die blinde man toe gaan en vir hom sê dat Jesus hom nader roep spring hy op, los sy bokleed net daar en gaan na Jesus toe. Jy moet onthou dat `n bedelaar 'n ou is wat nie besittings het nie. Dit wat hy besit het het hy aangehad.  Hierdie bo-kleed van hom was die een ding wat hy gewoonlik voor hom op die grond uitgegooi het sodat die mense geld daarin kon gooi.  Aan die einde van die dag het hy die bokleed bymekaargebind en gekyk wat daarin was. Die bokleed was die ding wat hy in die nag bo-oor hom gegooi het waar hy ook al gelê en slaap het.  Die bokleed was sy belangrikste besitting! En hy gooi sy bokleed sommer daar eenkant toe ----- om na Jesus toe te gaan! My broer en suster, hierdie ou het met so `n onwrikbare vertroue na Jesus toe gegaan dat hy elke enkele greintjie van sekuriteit wat hy gehad het, opsy gooi om by Jesus uit te kom!

Waarvoor is ek en jy desperaat op hierdie dag? Is ons desperaat vir ‘n verandering in ons lewens? Is jy desperaat om uit die gemors te kom waarin jy jou vasgewoel het?  Desperaat op ‘n nuwe kans? Waarvoor is jy desperaat?

Of soek jy miskien na Verlossing met ‘n ongekende desperaatheid?  Soek ek en jy miskien desperaat na ‘n meer innige verhouding met ons Verlosser. Jy wil Hom ken, en die krag van sy opstanding in jou lewe ervaar.  Jy is moeg om te sien hoe God mense rondom jou gebruik. Jy is desperaat op soek dat God vir jou sal raaksien en deur jou sal begin werk.

Toe hierdie blinde man uiteindelik by Jesus uitkom, vra Jesus vir hom hierdie merkwaardige vraag: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Wat verwag jy van my?  Wil jy maar net nog `n aalmoes uit my hand uit hê?  Wil jy maar net vir vanaand kos hê, soek jy nuwe klere, soek jy iets om te drink, wat wil jy hê moet ek vir jou doen?

Ek wil jou vra hier aan die naderende einde  van die Lydenstyd: “Wat wil jy hê moet Jesus vir jou doen?. Wat wil jy hê moet gebeur gedurende die lydenstyd? Wil jy net 'n bietjie vrede en rus hê?  Wil net ‘n bietjie ontspan? `n Bietjie vakansie hou sonder iemand wat jou laat skuldig voel oor jy nie in die kerk is nie? Of miskien soek jy net bevestiging dat jy `n goeie Christen is. Louis, ek sal Goeie Vrydag kom nagmaal hou, maar om dan weer Sondag in die kerk te wees, is darem te veel gevra.  Ek was mos nou Vrydag in die kerk.

Miskien wil jy net in jou gemaksone gesus word. Niemand moet vir jou moeilike vrae stel nie – en hierdie nonsens van bekering en lewensverandering is nou sommer weer `n nuwe ding! Hoekom was niemand vir jare lank in die outyd daaroor bekommer nie?  Eintlik wil ek net uitgelos word hierdie Paastyd. Maar Jesus sê: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?”

Weet jy wat vir my besonder interessant is van die verhaal uit die Evangelie van Markus, is dat die Here Jesus dieselfde vraag kort na mekaar vra: Hy het dieselfde vraag gevra in Mark 10:36. Toe was dit gerig aan Johannes en Jakobus.

En hulle antwoord by die geleentheid was: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Net `n paar verse verder in Markus 10:51 vra die Here Jesus weer dieselfde vraag: maar hierdie keer kry hy die antwoord: “Here, dat my oë oopgaan.” (Mat 20:33)

"Here, dat my oë oopgaan.” sê die blinde bedelaar.  My liewe broer en suster, lees jy ook hier tussen die lyne dieselfde ding as ek?  Dat die man besef dat sy behoefte meer is as net om te sien (wys na oë).  “Here ek wil nie net sien nie, my behoefte is dat my oë mag oopgaan dat ons ook sal verstaan. Dat my lewe mag verander. Dat ek mag sien waar ek sin vir die lewe sal vind. Dat ek mag sien dat die lewe nie net bestaan uit kos en klere en posisies en geld en besittings en blinkgoed nie, maar dat ek die ware essensie van die lewe kan raaksien. Here, dat my oë mag oopgaan.”

My liewe vriend - dit is my gebed vir jou vir hierdie paastyd.  Dat jou oë ook sal oopgaan. Dat jy in hierdie paastyd die essensie van die lewe mag raaksien. Dat jou oë hierdie paastyd mag oopgaan en jy mag raaksien hoe geweldig groot die opoffering is wat Jesus aan die kruis op Golgota ter wille van jou en my gemaak het. Dat jy mag sien hoe geweldig groot God se genade vir jou is. Die genade van God wat Jesus gedryf het tot by die kruis. Dat jy mag sien hoe wonderlik die verlossing is wat Jesus vir jou met sy bloed gekoop het, en dat jy mag sien hoe dankbaar jy werklik behoort te wees vir die groot verlossing wat jy gratis uit God se hand ontvang het. Dat my en jou oë mag oopgaan. Dit is my gebed vir ons altwee.

Hierdie genesing van Jesus (was dit die laaste een?) was nie net maar `n geleentheid waar hy iemand gesond gemaak het sodat hy kon sien nie. Nee, meer belangrik is dat in die laaste dae van Jesus se lewe, op pad om gekruisig te word op Golgota in Jerusalem, is Jesus steeds besig om mense se lewens te verander. Ek en jy stap in hierdie lydenstyd op pad na paasfees agter Jesus aan soos wat Hy na Jerusalem toe gaan.  Gaan hierdie Paasfees `n verandering in ons lewens bring? Of is dit net nog `n lydenstyd, nog `n paastyd; geen verskil, geen verandering? Geen nuwe openbaring dat die Heilige Gees BINNE-IN my lewe nie? Wat wil jy hê moet Jesus vir jou doen hierdie paastyd? AMEN
 
10. Kom ons bid.
Liewe Here; wat is die mens? Gemeet teen die ewigheid, is die mens maar net ‘n waterdruppeltjie in die see; net soos ‘n korreltjie sand in ‘n baie groot woestyn. En wanneer U vandag vir my en ander blindes langs die pad kom vra: “Wat wil jy hê moet ek  hierdie Paasfees vir jou doen?”; dan weet ons, Here dat ons alles behalwe onbelangrik of niksseggend in u oë is nie; al slaap ons snags op ons bokleed langs die pad! Dan weet ons inderdaad dat U nie net ons oë wil oopmaak nie, maar dat U ons ook wil laat verstaan dat dit wat met ons gebeur, of nie gebeur nie, ooreenkomsig u wil sal geskied. Bowenal Here, weet ons dat U vir ons voorspoed beplan, en nie teenspoed nie.
 
Maar Meester, ons is ook gedurig deeglik bewus van ons eie onvolmaaktheid. Niks in hierdie wêreld is volmaak soos U nie. Ja Here, ons kan sê dat selfs die son onvolmaak is, omdat dit donker word tydens ‘n sonsverduistering. Daarom kom bid ons vanoggend opnuut eerbiediglik dat elkeen van ons hierdie Paasfees positief sal antwoord op die vraag oor wat U vir ons kan doen, en dat ons opnuut, daar by die voet van Golgota sal kom smeek om u vergifnis van ons sonde, en dat ons opnuut sal kom bely dat u bloed ons van alle ongeregtighied kom reinig het.
 
Ek bid graag vir almal in hierdie gemeente wat siek of in die hospitaal mag wees. Ons kom plaas hulle aan u voete neer en vra dat U hulle sal kom aanraak met u oneindige krag van genesing.
Gaan met ons in die week wat kom en wil U ons in die regte stemming plaas vir Paasfees. Ons bid dit in u Heilige naam. AMEN
 
11. Ons vra nou die diakens om asseblief die liefdesgawes in te samel.
 
12. Die lied waarmee ons gaan afsluit het  betrekking op die gelykenis van die verlore seun; juis daarom is dit ook totaal van toepassing op die vraag oor wat Jesus vir jou en vir my kan doen. Die antwoord is in hierdie lied. Kom ons sing staande Lied 510: 1 tot 4. En dan bly u staan assseblief.

(Plaas druiwe op skerm)
13. Druiwe word flenters getrap vir die allerbeste wyn. Onthou, as die lewe jou in hierdie week pars en flenters trap – hou moed, want deur dit alles dra Jesus jou. Jy is met die hand uitgesoek. Mag jy in hierdie week tyd kry om by die Here se voete te gaan sit en te ervaar hoe lief Hy jou het. Geniet dit wat Hy bied - met ‘n passie en die wete dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees binne-in jou woon.

14. Die gemeente sing AMEN 

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16): Markus 10:46 52
  • Bybelboek: Markus
  • Tydsduur (bv. 15 min): 60 minute
  • Kalender (periode): Lydenstyd, Paastyd
Lees 11702 keer Datum verander Donderdag, 25 April 2019 14:04
L Radyn

Afgetrede landdros. Sedert 1986 'n leke prediker in die NG Kerk.

Google+