![]() |
Dominee.org.za Die Woord vir almal! |
Wat dink julle van die volgende stelling?
Ek sukkel met my stiltetyd. Dis so moeilik om op te staan en Bybel te lees… Ek sukkel ook met ander dinge in my lewe, soos ooreet, woedebuie en pornografie. Ek bid vir selfdissipline – maar dit wil nie werk nie!
Mag ek vra hoeveel van julle met hierdie probleem spook?
Ja, ek het gedink dat baie hierdie probleem het.
Die antwoord op hierdie probleem is aan die een kant baie maklik en aan die ander kant baie moeilik. Die moeilike antwoord het te doen met ons gesindheid en die maklike antwoord te doen met ons optrede of lewensgewoontes.
Kom ons begin by die gesindheidsantwoord:
Hier gaan dit oor jou verstaan van heilig lewe voor God. Is dit jou lewensdoel om ‘n ‘n intieme verhouding met God te lewe? ‘n Heilige lewe behels dat ek:
- alles wat skeiding maak tussen my en God uit die weg sal ruim
- gedurig sal wegdraai van sonde en ‘n voortdurende afsonder tot God
- God alleen sal gehoorsaam
‘n Heilige lewe voor God is ook die aantrekkingskrag na God – en daarsonder is stiltetyd gewone pligspliging en/of word dit deur skuldgevoelens gedryf.
Die optrede-antwoord:
Paulus het eenmaal uitgeroep “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. Ek dink hy was redelik desperaat toe hy dit gesê het – en ek dink baie van ons sal baie goed verstaan wat in sy gedagtes omgegaan het, veral as ons gesels oor ons intieme verhouding met die Here en ons stiltetyd. Tog gaan dit hier oor doodgewone optredes of handelinge. Jy weet wat reg is en jy weet dat jy naby God moet leef – jy’t Hom mos lief, maar kom nie daarby uit nie. Hoe moet jy dan maak om hierdie allerbelangrike verhouding prakties te beleef?
Jy moet eers 2 belangrike redes verstaan waarom jy so sukkel…
● Eerstens is daar die konflik wat bestaan tussen jou gevoel (emosie) en jou wil (verstand). Beide wil beheer hê van jou optrede en jou besluite. Die geveg om beheer vind daagliks in jou plaas en begin die oomblik as jou wekker lui om jou te laat opstaan om stiltetyd te hou of reg te maak vir die dag. Gevoel sê: “lê nog 10 minute” en Wil sê “ek het baie om te doen”… en nou moet jy ‘n besluit neem voor jy behoorlik wakker is en baie van ons kies dan vir die gevoel-antwoord. So begin jou dag dan met ‘n besluit wat geneem is ogv jou emosie en nie met jou verstand nie – en baie ander besluite deur die dag volg dan dié voorbeeld.
● Tweedens gaan dit oor verkeeerde en gemaksugtige gewoontes wat jy oor jare heen aangeleer het. Hierdie gewoontes het jou karakter beïnvloed en maak jou wie jy op die oomblik is. Om heilig voor die Here te leef gaan vra dat jy eers jou karakter sal verander en om dit te doen moet jy jou gewoontes verander en heiligheidsgewoontes aanleer. Onthou gewoontes bepaal karakter en karakter kan alleen verander as jou gwoontes wat te doen het met jou gedagtes, geloof, en optrede verander. In die mate wat jy God se gewoontes soos in die Bybel vir jou gegee aanleer, in daardie mate sal jou karakter ook verander. Dit is met hierdie gesindheid wat ons ons stiltetyd en lees van ons Bybel moet benader...
As jy nou verstaan dat daar ‘n gedurige stryd in jou is om beheer van jou besluite en gewoontes, dan wil ek graag 3 stappe voorstel waarmee jy beheer oor jou besluite en gewoontes kan kry:
Die eerste is dat jy meer sensitief en bewus word dat jy selfdisipline kort en die tweede is dat die Here jou in situasies gaan plaas waar jy sal moet bewys dat jy nie deur emosie gedryf word nie. Sonder hierdie situasies sal jy geen oefening kry in die neem van die regte besluite en so ook geen oorwinning smaak oor die sonde wat jou van God wil wegdryf nie. Onthou selfdisipline kom net deur oefening, en oefening en oefening…
Praktiese raad
— Wanneer jou wekker lui, moenie eers dink nie, gly-val uit jou bed op jou kniee en begin dadelik bid. Staan daarna op en gaan sit op ‘n plek, ver van jou bed af, waar jy regtig alleen met die Here kan wees.
— Begin klein en nie met ‘n hoop teologiese boeke en ‘n uur-lange stiltetyd nie, jy begin bloot met ‘n vyf-minute program – lees ‘n boek soos Markus of die Johannesbriewe stelselmatig deur. Luister na ‘n loflied op ‘n CD as inleiding vir jou stiltetyd. Begin uitkyk vir gebruikersvriendelike boeke wat jou kan help met vrae wat mag ontstaan wanneer jy die Bybel lees.
— Kry vir jou ‘n notaboekie waarin jy aantekeninge van vrae en ontdekkings kan maak sodat jy dit later kan opvolg. Skryf sommer die volgende dag se datum in jou boekie as aanmoediging om jou afspraak met die Here na te kom.
— Jy moet ook ‘n vriend gaan vertel (kameraad) van jou nuwe aksie-plan om naby die Here te leef sodat die vriend jou vriendelik kan aanmoedig om te volhard en ook vir jou kan bid. Erken dit maar – almal van ons het iewers ‘n polisieman nodig aan wie ons verantwooding doen, anders kom min dinge gedaan…
— Verder is dit belangrik dat jy nou met ander mense sal begin deel wat jou ervaring en ontdekkings met die Here is – op die manier sal jy die waarhede omtrent God en jou nuwe gewoontes internaliseer en baasraak.
— Volhard met die oefening vir 6 tot 8 weke. Dit sal in die begin wees soos iemand wat begin hardloop om fiks te word. Die eerste paar dae gaan dit wonderlik, dan begin dit vervelig en moeilik raak en die plafon voel of dit hier naby jou kop en God baie vêr is. Met rukke sal dit beter gaan en rukke weer slegter, totdat jy ‘n mate van fiksheid het en nie meer so baie moet insit om aan die gang te bly nie. As jy deurdruk met die oë op Jesus gevestig, sal jy voor jy jou kom kry nuwe en beter lewensgewoontes aanleer en beoefen wat jou naby aaan die Here sal laat leef!
Toewyding
Hierdie inligting wat ek vandag vir julle gee klink dalk eenvoudig maar ek wil jou verseker dat dit lewensnoodsaaklik is, só noodsaaklik dat jy nou ‘n besluit sal moet neem en net jy gaan bepaal of dit ‘n emosionele besluit of ‘n lewensveranderende besuit gaan wees. Terwyl ons die offergawes opneem speel ek ‘n liedjie van Piet Smit “Woorde en dade” ... Daarna as die boodskap jou geraak het sal ons ‘n toewydingslied sing waarin jy jou besluit aan die Here en aan die gemeente, wat dien as getuies, kan bekend maak.
“Oesland” Piet Smit (Snit 2: Woorde en Dade)
1. NAV
2. Personal Holiness in times of Temptation. Bruce Wilkenson p.213ev
3. Today “Answers by Arnold en Joy Mol” June 1996 p.13
4. Cd: “Oesland” Piet Smit (Snit 2: Woorde en Dade)
Vraag: Wat is die groot opdrag wat die Here Jesus aan sy dissipels gegee het met sy hemelvaart?
Mat.28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Dit vra van elke Christen om dissipels te máák. Die dubbelpunt na “dissipels” dui vir ons aan “hoe” mens dissipels maak... doop hulle en leer hulle! En “wat” moet hulle leer? Alles wat Jesus hulle geleer het - die boodskap van God se liefde!
2 Tim 2 sluit by hierdie opdrag aan maar wil ons vertel dat hier ‘n proses ter sprake is. Die boodskap moet vertel word deur die volgende persone: “Wat jy (Timoteus) my (Paulus) voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy (Timoteus) toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om ander ook te leer.” Van Paulus aan Timoteus aan betroubare manne, aan ander...
Dit is ‘n proses van oorvertel - die nuus van Christus moet oorvertel word van geslag tot geslag. Hier is 4 generasies betrokke. In moderne konteks kan ons sê dat ons as ouers die nuus moet oordra aan ons kinders - op so ‘n wyse dat ons kinders die nuus sal wil oordra aan hulle kinders!
Dit is soos ‘n aflos-resies. Sal 4 vrywilligers my asb kom help met die aflos? (Vooraf is met een kind gereël om te staan i.p.v. hardloop.) Laat hulle deur kerk aflos hardloop - prys by my vir die wenners.../ neem tyd. (Gee deelnemers elk ‘n geskenkie.)
Vraag: As een stop in die resies, kan die resies voltooi word? Kan die prys ontvang word? Nee!
Ja, dit is dieselfde probleem wat ons het met ons kinders wat afvallig raak van die kerk...
Ons sien ouers wat tou opgooi met hulle kinders. Liewers geld gee om te fliek en te jol ipv na hulle luister en hulle verstaan. Pa en ma vlug in hulle werk in sodat hulle nie te veel met kinders se moeilike vrae en nukke gekonfronteer word nie.
Die kinders gaan leer hulle waardes op verkeerde plekke - die fliek, video, ens. ipv by ouers!
Iemand het gestop om die evangelie en goeie waardes aan hulle kinders oor te dra!!!
Iewers het ouers nie die stokkie op ‘n verantwoordelike manier (soos hulle met die doop van hul kinders belowe het) aangegee nie.
1. Moontlik het jou dade en jou woorde mekaar weerspreek...
2. Moontlik te bang gewees om jou doopbelofte na te kom omdat jyself nie ‘n goeie verhouding met God het nie...
3. Moontlik nie jou plig as ouer opgeneem nie omdat jy die weg van die minste konfrontasie gekies het...
Jesus het soveel in jou as ouer belang gestel dat die stokkie aan jou oorgegee is - waarom sal jy dit dan nou weerhou van jou kinders??? Dit is die doel van die Evangelie - dit moet aangegee of oorvertel word van geslag tot geslag soos Mat.28 dit vereis!
Timoteus gee vir ons 3 voorbeelde van hoe ‘n Christen die groot opdrag uitvoer om dissipels te maak:
v3: Soldaat
Leef anders as ander mense / het nie eie regte nie / leef onder eie streng wette / gee hul lewe vir die saak / leef nie vir hulle self nie maar vir hul bevelvoerder - doen net wat hy sê / veg teen die vyand sodat hul eie mense beskerm kan word .
v5: Atleet
moet volgens die reêls deelneem om die prys te kry / gedissiplineerd oefen / wil hê om te wen / self hardloop.
v6: Boer
Werk hard om vrug voort te bring / van vroeg tot laat sweet en bid / doen hul deel en vertrou op die natuur (God) om die werk te voltooi.
Hierdie voorbeelde help ons niks as ons nie die geheim van die stokkie ken nie...
Hoe weet ‘n mens jy het sukses behaal as atleet - die stokkie wat jy aangegee het is weer aan iemand anders gegee om verder te hardloop, as soldaat -wanneer die mense vir wie jy jou lewe offer self bereid is om hul lewe te offer vir hul saak, as die boer ‘n deel van die saad wat hy geoes het weer in die grond kan plant om weer saad voort te bring!
Die geheim van die stokkie is dat hy weer aangegee moet word! As ouer en onderwyser en leier lê jou sukses daarin as jy sien dat die stokkie /Evangelie suksesvol verder aangegee word... Dit beteken dat ons sukses daarin lê dat ons kinders hul kinders na die Here Jesus sal lei.
Hoe sal ons jeug die Here kan ken as ons ouers, onderwyser en leiers nie opreg met God lewe en die jeug met daad en woord oortuig nie? (Hoe sal jou buurman/ vrou, die mense met wie jy werk/ speel die goeie nuus hoor, as jy dit nie oorvertel nie?)
Ons moet so lewe dat ons kinders die evangelie self sal uitleef en verder sal dra - dit mag nie by jou en my stop nie. Gelukkig weet ons dat toe ons die doopbelofte afgelê het, God ook beloof het dat Hy ons die genade en die krag en insig sal gee wat ons nodig het om die kinders in sy Naam groot te maak.
Vers 7 eindig met “Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.”
Dit is God se uitnodiging aan ons vanmore om in ‘n intieme en eerlike verhouding met die Hom te kom staan - Hy sal ons die krag en genade gee om die stokkie aan te gee...
Reël aflos-resies met 4 vrywilligers.Benodig aflosstokkie, stophorlosie en geskenkies.
1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
2. Leesrooster 2004. BUVTON. CTP Boekdrukkers
Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za