![]() |
Dominee.org.za Die Woord vir almal! |
Sondag 5 Mei 2019: Escombe: Onderweg na Hemelvaart.
1. Voorafsang
2. Afkondigings
Goeie môre Broers, Susters en Jongmense. Dit is ‘n pragtige oggend waarvoor ons net die Here kan dank. Ek sê dit vir ‘n rede – die mense in Mosambiek het lanklaas so ‘n mooi oggend gesien, want hulle word bomenslik beproef deur siklone; een ná die ander! Maar die afgelope twee weke was vir duisende inwoners van die groter Durban gebied ook uiters traumaties vanweë vloede. Behalwe vir die bykans 100 wat gesterf het, is duisende dakloos gelaat; vernaamlik in Umlazi waar ek die laaste 20 jaar van my werksloopbaan deurgebring het. In die Scottburgh gemeente is daar 54 oumense wat eenvoudig al hulle besittings verloor het. Ons dank ons Hemelse Vader vir hulp wat van oral af ingestroom het. Ek was bevoorreg om Vrydag ‘n hele vrag lewensmiddele by die kerk in Scottburgh te gaan aflaai. Dit was geskenk deur weldoeners in Pietermaritzburg. Daar is egter steeds ‘n nood en as u enigsins hulp van watter aard ookal kan verleen, is u baie welkom om ná die diens met my te kom gesels. Klere, komberse, eetgerei en dié dergelike sal baie welkom wees.
Dit is my voorreg om u hartlik welkom te heet by vanoggend se erediens. U kon so maklik besluit het om vanoggend liewer op die strand te gaan deurbring, of om eerder na die diens op TV te kyk. Ek sê nie dit is verkeerd nie, maar die samekomste van die gemeente is tog soveel belangriker vir die Here. Ons bevind ons vandag in die opmars na Hemelvaart (wat ook deesdae maar baie afgewater herdenk word in ons land). Daarom kan ek nou vir u met oorgawe sê: “Soos ’n blaar na die grond val; soos die Umgenirivier na die see loop; soos ’n Natalse Wildevy sy takke na die winterhemel oopsprei; soos skape agter hulle oppasser aanloop – so is ons harte nou op die Here gerig.”
Jeremia tree op 100 jaar na Jesaja. Gebore uit ‘n priesterlike gesin in Anatot en in 627 v.C. geroep as profeet van God. 40 jaar lank tydens die regerings van Juda se laaste vyf konings waarsku Jeremia hulle teen die komende rampspoed en doen hy ‘n beroep op die volk om hulle te bekeer. Na die dood van die godvresende koning Josia in 609 v.C. vererger die politieke toestande en Juda is vasgevang tussen die twee strydende wêreldmoonthede: Babilon in die noorde en in die suide Egipte. Jeremia probeer tevergeefs die koning oorhaal om hom by Babilon te skaar. Nebukadneser (Babilon) oorwin Egipte en in 587 val hy Jerusalem binne en verwoes die tempel en stad en voer die volk weg in ballingskap.
Jeremia die uitgeworpene
Jeremia is uit die priestergeslag van Anatot. Die priesters van Anatot is die nageslag van Abjatar wat deur Koning Salomo verban is nadat hulle saamgesweer het met Adonia om in sy plek koning te word.
Jeremia het ‘n moeilike taak gehad – hy is uit ‘n familie wat verban is, sonder aansien en regte, maar die Here vind dit goed om hom te roep om by die koning te gaan profeteer.
Die Here roep Jeremia om teen die volk en koning te profeteer. Hulle het in sonde geval en leef ver van die Here. Verder moet hy die koning aanraai om liewer saam te span met Babilonie ipv Egipte – en dit was nie ‘n gewilde boodskap by die koning ne.
Die gevolg is dat Jeremia se eie familie hom om die lewe wil bring. Hulle is bang as hy die koning kwaad maak dat hulle finaal vernietig en doodgemaak sou word. Hulle probeer Jeremia dus doodmaak voordat hy die lewe vir hulle kan moeilik maak…
Jeremia kla by die Here
Nou kla Jeremia by die Here.
* Waarom is die goddelose mense – die wat sy lewe soek – so voorspoedig?
* Waarom is die ontrou mense se lewens so rustig?
Kom ons verander sy vrae in gewone Afrikaans.
Here, waarom gaan dit goed met die goddelose mense maar met MY, U kind, gaan dit so sleg? Waarom kan ek nie ook so rustig leef, sonder kommer en vrees soos hulle nie?
Here waarom is die gras aan die anderkant van die draad altyd groener?
Ek dink as daar ooit iemand is wat rede gehad het om sulke vrae te vrae was dit Jeremia. Hy leef vir die Here en wil net goed doen, maar die Here verwag moeilke en lewensgevaarlike werk van hom…
Die Here antwoord Jeremia
In Jer.12:5 antwoord die Here vir Jeremia.
In gewone taal beteken die versie niks goed vir Jeremia nie. Die Here spot amper met Jeremia. As hy nou al kla oor die taak wat die Here hom opgelê het, wat gaan hy doen wanneer die Here meer en moeiliker en gevaarliker take verwag?
* Jeremia, dit sal nog erger word – jy loop met voetsoldate en kla oor die onreg, maar jy gaan nog hardloop dat jou tong uithang!
* Jy kla oor jy onveilig voel maar Ek gaan jou nog stuur na die pronkbosse van die Jordaan, daar waar dit rof en gevaarlik is en die rowers en wilde diere bly. Die doringbosse sal maak dat jy nie kan wegvlug nie…
* Jy skrik vir jou familie wat jou wil doodmaak, maar daar gaan nog baie wees wat jou lewe sal soek…
Op die oog af lyk dit of die Here nie baie simpate en vertroosting vir Jeremia het nie. Ons verwag dat Hy eers vir Jeremia sou paai en bemoedig met beloftes dat dit môre beter sal gaan, maar dit gebeur nie. Intendeel, dit kom voor of die Here spot met sy vrees en vertel hom dat dit wat hy nou beleef niks is met wat voorlê nie.
Kom ons kyk ‘n bietjie dieper na hierdie raaiselagtige antwoord van die Here! Is daar nie dalk ‘n dieper betekenis nie?
Hoekom spot die Here met Jeremia? Want Jeremia sien net hierdie gevaar en oormag en onreg teen hom raak maar sien nie die eintlike gevaar en oormag raak nie…
Dit is so dat hier ‘n ongelyke stryd aan die gang is, maar nie soos Jeremia dink nie…
Vir voetsoldate om ten perderuiter-soldate te veg is eintlik onmoontlik. Dit is soos om teen ‘n oorlogstank te probeer veg. Die stryd is duidelik ongelyk. Dit is soos dit vir Jeremia… en dikwels vir ons voel…
Maar die Here probeer eintlik vir Jeremia wys op ‘n ander ongelyke stryd…
Wie is groter as die soldaat te perd.. of groter en sterker as die tank?
Ja, God, die Almagtige! Geen mens, oorlogsmiddel, land volk of koning kan iets aan Hóm doen nie. God is overgelykbaar groter as die skepping en skepsels.
DIT is die eintlike ongelyke stryd wat Jeremia behoort raak te sien…
Nie sy eie lot teen die gevare en take wat hy moet trotseer nie, maar wel die gevaar vir dié wat God teenstaan en rustig leef asof Hy geen mag het nie, en wie God se kinders laat swaarkry.
Daar is genoeg ander bewyse in die Bybel om vir ons te sê dat die Here wel sal oordeel oor die goddelose en dat ons moed moet hou!
Wat is ware geloof?
In Hebreers 11:1 word vir ons vertel wat geloof is. Jeremia moes dit met sy eie lewe beleef wat ware geloof is.
Dit is nie om te glo dat alles môre beter sal gaan nie.
Dit is om te glo dat God groter en magtiger is as enige-iets wat op my pad lê.
Geloof in God is dus nie om te hoop dit sal môre beter gaan nie, maar om in die gevaar gehoorsaam aan God te bly, al verstaan ek nie, ek moet leef en doen soos Hý verwag! Waar ons in opdrag van God leef, daar sal Hy met ons wees met sy groot Almag! Al sien die wêreld dit nie raak nie.
Die Here het nie vir Jeremia probeer verduidelik en paai nie, Hy het net gehoorsaamheid van Hom verwag…
Jeremia, hou op kla en leef die lewe wat God van jou verwag – Hy is met jou!
Ja, die lewensstryd is ongelyk.. wie kan ten God opstaan en dit oorleef?
Hoe lyk jou geloof?
Ons kla so dikwels oor ons lot en sou graag beter wou hê. Maar vergeet gerieflik wat God beleef wanneer sy skepsels in opstand teen Hom kom, soos sy eie volk Juda wat nie wou luister nie en saam met Egipte gespan het en gevolglik hul vryheid en tempel en land verloor het en beheer is deur die heidense Babiloniese volk.
Wat nog erger is as ons besef dat God hulle probeer warsku het deur Jeremia en deur baie ander profete – maar hulle wou nie hoor nie en moes die gevolge dra.
Hoe behoort my geloof te lyk? Ek moet die dieper waarheid en prentjie raaksien. Daar buite s ‘n goddelose en rustige wêreld wat onder die oordeel van God staan en as ek en jy as kinders an die Here nie soos ‘n Jeremia ons deel begin doen en gehoorsaam aan God is, soos Matteus 28:18,19 ons vertel om te doen nie, dan sal die wêreld geoordeel word en verlore gaan!
My gehoorsaamheid aan God wys die wêreld wat my keuse is!
Daarom is jou en my gehoorsaamheid aan die Here, ten spyte van die swaarkry en onreg wat ons (dink) ons beleef, juis die teken wat die wêreld na smag!
Kinders van die Here wat hul geloof in God, die Almagtige, uitleef en demonstreer word ‘n hoop vir die wat andersins verlore sou gaan!
My gehoorsaamheid aan God demonstreer my geloof… Nee, demonstreer die Almagtige God!
Watter kant kies jy vandag? Om te kla teen die onreg en oorspoed van die goddelose en hulle toe te laat om verlore te gaan?
Of
Om die Here te dien en te gehoorsaam en te volg want ek weet dit sal die goddeloses help om gered te word – soos ek!
Gebed: Psalm 139:23-24
Musiek: Liedboek 218:1,2; 523.
1. 1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
2. Handboek by die Bybel (Hersiene uitgawe) 2de druk 1991 (fotos)
Hoekom sukkel ons (Christene) so om dankbaar te lewe? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak...
Genade - Die sleutel vir 'n dankbare lewe! Mat.18:21-35
v.35 “van harte vergewe” = dankbaarheid
Inleiding
Ek dink nou al ‘n paar jaar oor die woord “dankbaarheid” en meermale daaroor gepreek en geskryf. Tog bly ek wonder hoekom ons (Christene) dan nie dankbaar lewe nie? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak?
Kan ek jou vra om eers die volgende vrae te antwoord:
Beskryf hoe dankbare mense lyk en lewe?
Wat het jy nodig sodat jy ‘n dankbare lewe kan lei?
Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe of dankbare lewe gegee het.
Alhoewe die woord „Dankbaarheid” nêrens in die teksdeel voorlom nie lyk dit vir my of hier ‚n storie agter die storie is, nl. ’n amptenaar wat nie dankbaar was oor die genade wat hy ontvang het nie. Om meer te verstaan wat “dankbaarheid” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.
Vertel: Kyk na die prent en probeer vir mekaar die verhaal vertel van die ondankbare amptenaar
1. Ons het hier met drie hoofkarakters te doen.
Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan ‘n mens doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Soveel om voor dankbaar te wees!
Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy sy dankbaarheid demonstreer en hom begenadig, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar dieselfde genade gun soos wat hy ontvang het nie.
Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet. Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie, wat nie besef hoe dankbaar hy behoort te wees nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar wat sou kon betaal, word nie vergewe nie. Die medeamptenaar word ongenadig hanteer en in die plek van genade kry hy ‘n helse lewe in die tronk. Dis nou stank vir dank!
Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy genade ook weggeneem word – die omvang daarvan raak ook sy vrou en kinders.
2. Genade is God se sleutel vir ‘n dankbare lewe.
Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)
Ja, hier word ‘n voorwaarde vir genade gestel. Jy moet vergewe/begenadig, dan sal God jou genade gee.
Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.
Verbeel jou die doopbak is God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).
Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek die Koning vir vergifnis vir jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.
Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe ontvang. Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my my sonde? - maar nou stel God ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.
Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis. Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen. Dis hier wat ons kan sien of god se genade betekenis vir jou het...
Die kruks van die verhaal vind ons in vers 35 waar Jesus sê dat as iemand nie sy broer “van harte” vergewe nie, sal God jou nie vergewe nie!
Die gevolg = dankbaarheid
As jy nie van harte kan vergewe nie – dws dankbaar kan wees, as jy jou verhard en mense nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal jy jou kans om van die (ddaglikse) genadepoel te drink ontneem word – sal die nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en ondankbaarheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê “soos deur vuur heen” wees.
Aan die ander kant, as jy uit dankbaarheid vir jou verlossing jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om elke dag van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag inspireer om dankbaar te lewe!
Twee soorte genade
1. Die eerste soort genade is die genade waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis. Jy het dit gekry omdat jy besef het dat jou sondeskuld grrot is en onbetaalbaar is. Jy het genade ontvang omdat jy vergifnis daarvoor gevra het en jy het jouself aan die Here gewy. Daar was geen voorwaardes nie en jy is aanvaar sonder voorwaardes om eers te verander of heilig te wees.
2. Die tweede soort genade is dit wat ons nodig het om elke dag vrugvol en dankbaar te lewe. Daagliks vra ons daarvoor en dat die Gees ons deur die dag sal lei. Tog gebeur dit dat die genade(water) se krag verdwyn – ons drink elke dag maar ons lewe voel afgestomp. Vers 35 dui vir ons die moontlike probleem aan. Vir die genade om kragtig te werk moet ons ander mense vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook dankbaar kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld – dankbaarheid!
Die genade wat ons aan ander betoon is nie sommer maar net vergeet-en-vergewe nie – dit moet uit die hart plaasvind.
Dit kan net gebeur as jy van harte vergewe = dankbaarheid
Dankbaarheid is ‘n bewuste besluit!
Jy sal moet besluit of jy werklik dankbaar wil lewe en dit vir jou naaste, dorp, omgewing en die wye wêreld ook moontlik wil maak om dankbaar te lewe... As dit van ’n dankbaarheidsgevoel afhanklik moet wees sal daar nie veel van kom nie. Net soos die amptenaar pas nadat hy al sy skuld vergewe is ontdek het. Die eerste struikelblok is die mede-amptenaar wat hom geld skuld. Dit oorheers sy emosies em hy vergeet hoeveel hyself vergewe is.
Dankbaarheid verg ’n doelbewuste besluit waarin jy kom-wat-wil by jou besluit bly. ’n Besluit wat jy sal moet voed met God se Woord, gemeenskap met ander gelowiges en die sakramente.
As amptenare van die Koning sal jy vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om dankbaar te lewe nadat jy genade ontvang het.
Normale omgang met mekaar behoort die te wees van mekaar in liefde te vergewe.
Evangelisasie en sending-aksies behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom wat aanloklik gemaak word deur dankbare lewens.
Slot
Hoe belangrik is God se genade vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In die „Ons Vader” (Matteus 6: 14-15 ) bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.
God het ons boonop gewys hoe genade werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in genade kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.
Wanneer ons nie genade uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik met DANKBAARHEID te benader. Genade moet genade gee om dankbaarheid en lewe te bring! Genade is God se sleutel waarmee die dankbare lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van dankbaar – dood!
Kom ons kyk of julle die boodskap vandag verstaan het.
Ek wil nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “dankbaarheid” op die bord te kom skryf/spel. (Wanneer die persoon “dankbaar” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G..E..N..A..D..E..”. )
Die wêreld wil graag vrede vir mekaar gee en gebruik die PEACE-teken. Miskien kan ons dit verander met die kruis-teken en dan bedoel demonstreer en bewys ons „Genade”.
Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal verstaan: “wat sal jou help om dankbaar te lewe?”
♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe.
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.
AMEN.
Gebruik vrae om denke en verwagting vir die boodskap te skep.
Gebruik doopbak as illustrasie vir God se "Genadepoel".
Papier en potlode om gedagtes en voornemens op te teken.
Geleentheid vir oorgawe (opnuut).
Spesiale dankoffer geleentheid.
1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
“Ek sou kon doen met ‘n miljoen.. of twee of drie of tien...” Ja, dis nie net Lukas Maree wat so voel nie. Ek dink elkeen hier sou daarmee kon doen.
(Draai na mekaar en vertel mekaar wat die drie belangrikste dinge sal wees wat jy sou doen as jy nou ’n miljoen rand wen...)
Dit sou so lekker vir my en my vrou wees om ons huis af te betaal; ‘n paar rand in die bank te hê sodat ons nie weer so swaar sal kry as een van ons ons werk verloor nie; geld wegsit vir die kinders se universiteit; ‘n dubbelcab te hê, geld vir die kerk en vir behoeftige organisasies te gee...
Dis juis omdat ons geld wil hê dat ons waag, soms alles waag, want elke keer glo ek dat ek hierdie keer gaan wen!
Kaarte word gekrap, rande vir die masjien gevoer, ontbloot ons lewens voor miljoene mense dmv die kamera.. alles met die hoop dat ek tog die keer die “jackpot” sal slaan...
Mense het verskillende redes waarom hulle dobbel:
1. Maklike pad na rykdom - onweerstaanbare drang na rykdom - sonder om daarvoor te werk
2. Avontuur - die tinteling en afwagting, die pret en plesier wat wen eindelik bring
3. Liefdadigheid - geld gee vir ‘n goeie doel (ja, iemand het met ‘n goed bedoelde hart gesê dat hy wens hy wen ‘n miljoen rand om vir die kerk te gee sodat hulle my dienste voltryds kon bekostig... menslik gesproke ‘n briljante idee - maar kan ‘n Christen so optree?
Verskeie artikels het die afgelope tyd verskyn en kerke het selfs teenstrydige standpunte oor veral lotery. Almal wil weet is dit reg of verkeerd? Waarom? Onderliggend is daar ‘n behoefte en smag na ‘n wonderwerk wat my uit my gemors en wanhoop sal haal - iets soos ‘n miljoen kan my weer in staat stel om mens te wees - om selfs vir iemand iets te beteken!
Ja, ‘n hele paar artikels wys ons op die gevare van dobbel en wil ons waarsku dat dobbelary newe-effekte het soos gierigheid en naywer. Ek wonder of dit nie andersom is nie? – dit is agv ons gierigheid en onvertroue op God, dat ons dobbel...
Maar, ek wil daarom vanoggend nie vir julle goue reêls probeer gee waarom dobbel verkeerd is nie. Nee, ek wil juis oor die probleem praat wat VOOR dobbel lê, praat. Die ding wat maak dat ek wil dobbel en kanse waag.
Boodskap:
Ek nooi julle almal om by Matteus 6 oop te maak en saam met my te kyk wat Jesus in sy eie woorde vir ons gesê het. Ek gaan eers net ’n paar verse samevattend lees. (Mt.6:19-21,24,32-34)
(Plaas #6 in perspektief) Deel van die Bergrede waar die tien gebooie in Nuwe Testament taal uitgespel word. Dit gaan hier veral oor die liefde tot die naaste en watter plek ek daarin het.
(Lees en verduidelik stap vir stap).
Ø Let op. Die “opskrif” van elke perikoop is in ‘n vraagvorm.
Ø Daar is ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe stelling in elke perikoop wat die opskrif of vraag antwoord.
Ø Saam met elke perikoop gaan ook ‘n belofte van die Here.
1. Vers 1: “As julle armes help...”
X moenie uitbasuin... |
√jou goeie dade moet verborge bly... |
2. Vers 5: “As julle bid..”
X bid om deur mense verheerlik te word nie.. |
√ vergewe mense hul oortredinge... |
3. Vers 16: “As julle vas...”
X moenie swaarkry wys om simpatie te wek... |
√ versorg jou... |
4. Vers 16: Veronderstel: “As julle skatte bymekaar maak...”
X moenie aardse skatte bymekaar maak nie... |
√ maak Koninkryk-skatte bymekaar.. |
5. Vers 22: Veronderstel: “As julle wil lewe/getuig...”
X moenie sonder hoop / depressief lewe nie... |
√ kyk met geloof na die wêreld... |
6. Vers 24: Veronderstel: “As julle werk...”
X moenie Mammon (geldgod) dien nie... |
√ dien God, die Voorsiener... |
7. Vers 25-32: Veronderstel: “As julle bekommerd raak...”
X moenie wanhopig raak nie.. |
√ beywer jou vir die koninkryk van God en vir die wil van God... |
Die belofte wat met elke perikoop saam gaan is: “Die Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” of soos vers 33 dit saam vat: “...dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Dit is beloning of voorsiening wat geen lotery of gelukslag kan belowe nie!
Ja, geld en besittings maak ‘n belangrike deel van ons lewe uit! Dit is die tydsgees “hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê...”
Rykdom en besitting is nie verkeerd nie - dit moet net die plek van God inneem nie... Dit is die gevaar van dobbel en lotery!!!
Mt 6:33 stel die orde duidelik: soek EERS die koninkryk van God, dan sal GOD voorsien (nie jyself nie...)
Sekuriteit lê in die koninkryk van God en nie in besittings nie. Die beste opbrengs en rente wat jy kan verdien is om in die Koninkryk en wil van God te belê!
Om die koninkryk van God te soek beteken dat ek al my vertroue op God en sy liefde vir my en die mensdom sal plaas en dan Sy wil te DOEN!
Wanneer jy God werklik begin vertrou ontdek jy dat waar alles in die lewe wankelbaar is – God juis altyd vasstaan en vertrou kan word. Geluk en sekuriteit kan NET by God gevind word!
Christen-mense dobbel – met al die goeie en slegte redes en verskonings - omdat hulle God nie regtig vertrou nie en menslik gesproke maklike oplossings vir hulle probleme soek...
Prente van "Tatta Ma Chance"
Gebed: Here... “moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.” Amen
(Spreuke 30:8-9)
1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
2. Die Voorligter
Paassondag gaan oor nuut en vars lewe. Jesus het deur sy oorwinning oor die dood vir ons ‘n nuwe lewe – die ewige lewe – moontlik gemaak. Ek’t gewonder hoekom ons (Christene) nie nuut lewe nie? Hoekom is die lewe dikwels so afgesaag en treurig vir ons? Hoekom is dit nie altyd lekker om Christen te wees en om vir die kerk te werk nie?
“Nuut” behoort tog te beteken dat daar varsheid en aksie teenwoordig moet wees!
Die Nuwe Testament veral, is vol daarvan dat Christene nuut of selfs anders moet leef – dat ons ‘n verskil in die wêreld sal maak...
Ek dink daar is twee soorte “Nuut” waarvan ons vandag kennis moet neem. Maar voor ek die twee soorte nuut verduidelik moet ek eers vir julle die sleutel gee waarmee ‘n mens “Nuut” sal verstaan en daarom wil ek nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “vergifnis” op die bord te kom skryf/spel.
(Wanneer die persoon “vergifnis” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G.E.N.A.D.E.”. )
Ja, sonder genade kan daar nie sprake van nuut lewe wees nie! Die sleutel tot nuut leef is genade en om genade te ontvang moet jy vergifnis vra vir jou skuld.
Ons weet almal dat ons elke dag uit God se genade leef maar dit maak ons nie noodwendig nuut leef nie...
Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe lewe gegee het. Om meer te verstaan wat “nuut” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.
Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan iemand doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Vergifnis maak nuwe lewe moontlik!!!
Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy genade betoon en vergifnis gee, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar ‘n nuwe lewe gun soos wat hy ontvang het nie.
Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet. Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar sou kon betaal, maar word nie vergewe nie. Die medeamptenaar se nuwe lewe word van hom weggevat en in die plek daarvan kry hy ‘n helse lewe in die tronk.
Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy nuwe lewe ook weggeneem word – nie net word sy nuwe lewe weggeneem nie, maar ook die van sy vrou en kinders!
Vergifnis is God se sleutel vir die nuwe lewe.
Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)
Ja, hier word ‘n voorwaarde vir vergifnis gestel. Jy moet eers vergewe, dan sal God jou vergewe.
Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.
Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek voor die Koning vir vergifnis van jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.
Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe – DIE NUWE LEWE ontvang. Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my my sonde? - maar God stel ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.
Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis. Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen.
Die gevolg
As jy jou verhard en hulle nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal jy jou kans om van die genadepoel te drink ontneem word – sal jou nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en eentonigheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê “soos deur vuur heen” wees.
Aan die ander kant, as jy jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om weer van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag nuut en vars maak!
(Die helpers kan gaan sit, dankie)
Nou mag julle vra “wat nou van die twee soorte nuut waarvan jy gepraat het?
1. Die eerste soort nuut is die keer waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis.
2. Die tweede soort nuut is die nuut wat ons elke dag moet lewe. Daarvoor het jy voortdurend vergifnis nodig. Die manier om dit te kry is om ander mense te vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook nuut kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld –verfgifnis!
Waarom is dit nodig dat ons moet weet van die twee soorte nuut?
Elkeen van ons sal moet besluit of ons waarlik nuut wil lewe en dit vir ons dorp en omgewing en die wye wêreld moontlik wil maak om nuut te lewe...
As amptenare van die Koning sal ons vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om te vergewe!
Ons normale omgang met mekaar behoort die te wees van mekaar in liefde vergewe.
Ons evangelisasie en sending-aksies behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom.
Slot
God het jou wel van jou algemene sondigheid vergewe toe jy jou na Hom gekeer het, maar nou verwag Hy dat jy sal doen soos Hý. Jy moet reageer met vergifnis.
Jóú volgende vergifnis hang grootliks daarvan af of jy kan vergewe. Jou nuwe lewe hang af daarvan of jy nuwe lewe gee...
Hoe belangrik is God se vergifnis vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In hierdie gedeelte bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.
God het ons boonop gewys hoe vergifnis werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in vegifnis kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.
Wanneer ons nie vergifnis uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik NUUT te benader. Vergifnis moet vergifnis gee om nuutheid en varsheid te bring! Vergifnis is God se sleutel waarmee die nuwe lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van nuut – dood!
Geel strikkies
Ek sal ‘n growwe fout begaan as ek julle vandag hier los en nie help om die eerste stap tot verginis te neem nie. En daarom wil ek julle vertel van ‘n verhaal – eintlik ‘n liedjie.
Daar was ’n man in ‘n tronk wat sy familie in skande gesteek het. Hoe nader dit aan sy vrylating kom hoe banger was hy om huis toe te gaan. Sê nou maar hulle gaan hom verwerp? Hy skryf toe ‘n briefie en vra dat ‘n geel strikkie aan die boom gegang word as hy welkom is, anders sal hy maar net in die trein bly en verbygaan. Met sy aankoms was die hele boom vol geel strikkies!
Ons onderskat dikwels God se vergifnis en wonder of Hy ons nog wil hê.
As jy weer wonder of die Here jou wil hê, kyk op na die Golgota-gebeure want daar staan ‘n “boom” oortrek met geel strikke! Die Here nooi jou om na Hom toe te kom as jy vermoeid en belas is- as jy sonder vreugde is omdat jy ander nie die nuwe lewe gegun het nie, om nou die besluit te neem en reg te maak...
♦ Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal verstaan: “wat sal jou help om nuut te lewe?”
♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe.
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.
♦ As dit jou voorneme is om uit dankbaarheid vir God se genade en vergifnis aan jou, nou ander mense en sake te vergewe, word jy nou genooi om stil op te staan en vir jou ‘n geel strikkie/ kaartjie van die kruis af te gaan haal as ‘n simboliese gebaar van jou besluit om nuut te leef en om ander die nuwe lewe te help kry. As jy nog eers wil dink daaroor kan jy gerus ‘n geel kaartjie neem om jou te herinner daaraan dat God op jou antwoord wag.
(Speel Willie Joubert se “Net U bloed” terwyl mense vorentoe stap.)
AMEN.
Wit skryfbord of truprojektor.
Doopbak (genadepoel) + Drie vrywillegers.
Geel strikkies of kaartjies en hout kruis.
Willie Joubert se liedjie - Net U bloed
Aanvangslied: lied 409:1-3
Loflied: lied 417:1-2
Offergawes: lied 308:4
Slotsang: lied 422:1-3
1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
2. Liedboek van die NG Kerk
Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za