![]() |
Dominee.org.za Die Woord vir almal! |
Paulus skryf hier aan die gemeente in Korinte omdat hulle liefdeloos teenoor mekaar begin optree het.
Ek glo nie die Korintiers-gemeente het moedswillig liefdeloos opgetree nie, net te veel klem begin lê op die gawes en wie wat daarmee kon doen. Onbewustelik het hulle liefdeloos teenoor mekaar begin optree. Hulle meen hulle bewys groot liefde aan mekaar maar helaas daar heers onenigheid en afguns – hulle vergelyk mekaar se gawes en raak hoogmoedig daaroor.
Vertoon video Clip van Crocodile Dundee (laai dit hier af: http://www.youtube.com/watch?v=01NHcTM5IA4)
Ek dink die meeste van julle het hierdie toneel herken. Ja, dit kom uit die fliek “Crocodile Dundee” en dit handel oor die plasie uit Australie wat vir die eerste keer die groot stad New York City besoek.
Hy en ‘n joernalis word voorgekeer deur ‘n rowerbende. Dundee reageer nie dadelik en oorhandig sy beursie soos die rowers beveel het nie maar steek doodluiters sy hand agter sy rug in toe een van die bendelede sy mes uitpluk. Doodluiters haal Dundee sy eie groot mes uit terwyl hy die reeds bekende woorde doodkalm uiter: “That’s not a knife,” “This is a knife!”
Daarvoor het die rowers nie kans gesien nie en op die vlug geslaan.
In Afrikaans sou Dundee waarskynlik gese het “Dit is nie ‘n mes nie, Dít is ‘n mes!” of nog beter “My mes is tog groter as jou mes!”
Die toneel laat my altyd dink aan hoe dit in baie van ons huise gaan. Van kleins af leer kinders om teen mekaar mee te ding oor wie die moeiste of die grootste of die lekkerste speelding het. Dit veroorsaak dat ons ons lewe lank met mense meeding – of dit nou die gesin, ander familie, of my vriende of bure of by die werk is!
Dit maak dit net al hoe moeiliker om ander mense eerste te stel soos God dit van ons verwag. Dit raak al hoe moeiliker om lief te hê!
Die meeste van ons leef vandag met ‘n mentaliteit van “My mes is tog groter as jou mes!”
Wanneer ek na Paulus lewe en optrede kyk dan sien en hoor ek vir Crocodile Dundee, behalwe dat Paulus sou se “Julle dink julle het ware liefde, maar ek sal julle wys hoe ware liefde eintlik lyk!”
In 1 Kor.13 verduidelik Paulus hoe ware liefde lyk.
As huis van God – dit is die gemeente en ons huisgesinne moet ons vandag mooi luister wat God se verwagting is hoe ons Sy liefde aan die wêreld moet demonstreer.
Kom ons gesels net eers oor die vraag “Waarom liefde so belangrik is?”
Liefde begin met ‘n reaksie op God se liefde vir jou. Sy liefde vir jou is die motivering om ander life te hê.
· Paulus lê soveel klem op liefde – kom ons ondersoek sy konsep van liefde. Wat dink Paulus, is liefde? Hoe moet die huis van God lyk waar liefde heers?
Hy stel hul probleem dadelik aan die orde en verduidelik dat al die gawes waarmee hulle so besig is en spog niks is en niks help as dit nie uit en in liefde beoefen word nie.
Paulus gebruik wel die woord “agapao” wat tradisioneel die woord vir Goddelike liefde. Tog besluit hy om nie 'n defenisie van liefde te probeer gee nie maar om eerder te verwys na daaglikse optredes van mense om te wys hoe dit sal lyk waar daar wel liefde is en hoe dit sal lyk en klink waar daar nie liefde is nie. Liefde sal spesifieke uitkomste en effek op mense hê wat duidelik sigbaar sal wees - want liefde is ‘n bepaalde mentaliteit of lewenswyse.
Waar liefde heers sal die effek daarvan ‘n langtermyn of selfs ‘n blywende invloed hê – dit sal gawes, geloof en hoop oorleef!
· Paulus verduidelik liefde so:
Kom ons kyk na verse 4-7. 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Eerstens gee hy twee eienskappe van wat liefde is en daarna agt optredes wat beslis nie liefde kan wees nie.
· Die twee ware eienskappe van liefde is:
Eks.34:6,7 “6 Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7 Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.”
Die woord “lankmoedig” bevat twee konsepte wat belangrik is vir die verstaan van liefde – “lank” en “moed”.
Lank. Het te doen met selfbeheer tydens provokasie en konfrontasie. Dit is om nie te vinnig te verdedig of aan te val nie. Dit is die teen0orgestelde uitkoms as wat woede het. Jy bly bewus van God se lankmoedige genade vir jou en jy reageer dieselfde.
Moed. Liefde gee nie toe aan moedeloos en swaarkry nie. Dit onderskei tussen mense en omstandighede. Mense moet onder alle omstandighede met liefde behandel word.
Soms sal dit nodig wees om “Tough Love” te beoefen. Dit beteken dat jy sterk genoeg sal wees om mense reg te hanteer en reg te help al benadeel hulle jou!
As “Geduld” die passiewe kant van liefde is, dan is die volgende eienskap “vriendelikheid” die aktiewe kant van liefde.
2. Vriendelikheid. Weerens gaan ek ‘n ander woord leen om hierdie eiensakp te verduidelik. Die Englese Bybels vertaal “vriendelikheid” met “Kind”. Om “kind” te wees is om “goedhartig te wees”.
“Goedhartig” bestaan ook uit 2 konsepte, nl. “Goed” en “Hart”.
Goed. Is om die beste vir mense aan te bied. Dit wat hulle nodig het en wat hulle sal opbou.
Hart. Het met gesindheid te doen. Dis is om werklik besorg te wees en om te gee.
Goeie intensies doen die ding nie – goeie dade alleen bevestig dat jy liefhet!
Dit beteken dat ons aktief op die uitkyk moet wees vir nood in die mense rondom ons en wanneer ons dit opmerk, spring ons in en help. Dink aan die Barmhartige Samaritaan.
Luk.6:35 en 36 “Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
Goedhartigheid of vriendelikheid word verwag en beoefen teenoor vriend en vyand! Doen dit met deernis en sagtheid en jou gesin, vriende en vyande se harte sal oopgaan vir jou en jou getuienis!
· Paulus gaan nou voort en verduidelik vir die Korintiers en ons hoe liefde nie lyk nie. Hy gee agt voorbeelde:
1. Afgunstig / jaloesie
Soek sy eie belang of welvaart ten koste van ander.
Wil nie opoffer/swaarkry vir ander nie. “Ek het te hard gewerk vir wat ek bymekaar gemaak het.”
Kan dit nie verdra dat ander meer of beter as jy het nie. Dit maak jou seer omdat jy nie kan hê wat ander het nie…
2. Grootpraterig / arogant
Afgunstigheid is my sondige reaksie op die wêreld se welvaart. Grootpraat is my sondige reaksie op my eie welvaart! “My mes is to groter as jou mes, whê!”
Dit verdryf nederigheid en sagtheid – deernis.
Dit is baie nou verwand aan die volgende voorbeeld.
3. Verwaand
Dit dink jy is beter as ander. Jy dink jy is die kat se snor.
Dit vernietig al die goeie wat jou gawes en talente kon bereik het, as dit in liefde gedoen was.
4. Onwelvoeglik
Die Engelse bybels vertaal “onwelvoeglik” met “behaving badly”.
Vb. Tou by bank – hoor nie wat jy wil hê nie – reageer sleg teenoor amptenaar…
Ouers veral fouteer wanneer hulle nie hul kinders se swak dissipline en verkeerde gewoontes van kleins af aanspreek nie, net om die vrede te bewaar.
Huweliksmaats verwag soms dat hul maat hulle swak maniere en houding moet aanvaar.
Paulus sê dat liefde beteken dat jy jou moet gedra!
5. Eie belang / selfsug
Liefde is gerig op die mense om my. Of hulle nou vriend of vyand is – ek wil die beste vir hulle hê en doen!
God het gekies dat Christene hul liefde vir Hom verklaar deur hul optrede teenoor ander mense.
As jy God eerste stel, dan kan jy nie anders as om die mense om jou se belang voor jou eie te stel nie!
6. Liggeraak
Liggeraaktheid is die stimulasie wat onreg nodig het om te gebeur. Is om “online” te wees vir moeilikheid.
Paulus waarsku teen kort humeure – dit vernietig alle goeie intensies en goeie werke.
Liefde soek nie strooihalmpies om kwaad te doen of aan te val en seer te maak nie.
Daar is goeie chemiese hulp en gedragsoefeninge om jou hiermee te help as jy werklik ‘n afwyking het.
7. Hou boek van kwaad
Liefde krop nie op en ontplof op ‘n dag nie. As jy opkrop dan is jy eintlik besig om boek te hou van die kwaad.
Dit blaas nie ‘n “gascet” omdat jou kind of ouer nou al die hoeveelste keer iets teen jou verkeerd gedoen het nie.
Bitterheid is die vlagskip van boekhou van die kwaad!
Dit lyk of veral Christene fotografiese geheues het as dit by ander mense se sondes kom.
Jy verwag genade van God – dat Hy nie al jou sondes sal opskryf en teen jou hou nie – betoon dan genade aan almal!
8. Verbly oor onreg
Van die snaakste grappies is altyd die wat mense wat anders as jy is en lyk afkraak.
Elke keer wanneer ons so ‘n grappie luister of selfs vertel, is ons besig om onreg te bevorder.
Net so vernietig skinderpraatjies jou eie verhouding en dikwels ook ander se verhoudings.
· Paulus, hoe moet ons dan liefhê?
In verse 6 en 7 gee Paulus die antwoord.
Verheug jou oor die waarheid. Juig oor die waarheid.
Dit beteken ons moet werklik soek na dit wat mense om ons beter mense sal maak - hulle vry sal maak!
Ons moet ook so met die waarheid omgaan dat dit vir ander mense ook na die waarheid lyk en nie net vir ons nie.
Vind uit wat mense waardeer en help hulle dan om God te plesier – want dit is wat verheug jou in die waarheid eindelik beteken.
Mense moet God as Waarheid raaksien in jou dade!
Wil jy God as Waarheid in jou lewe en rondom jou hê? Maak dan die volgende verse jou lewensdoelwit.
Fil.4:8-9 “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.”
Lees ten slotte weer die teks: 1 Kor.13 (Die Bybel vir Almal)
1 Miskien sal ek die tale van mense en van engele kan praat, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan is ek soos ’n klok of soos ’n simbaal wat net raas.
2 Miskien sal ek God se boodskap kan bring, en al die geheime kan ken, en alles kan weet. Miskien sal ek so sterk kan glo dat ek berge kan wegskuif, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan beteken ek niks.
3 Miskien sal ek al my goed kan weggee, en miskien sal ek myself kan gee sodat mense my slaan en seermaak, en sal ek daaroor spog, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan help dit my niks.
4 Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie, 5 hy doen nie lelike dinge nie, hy is nie selfsugtig nie, hy word nie gou kwaad nie, hy onthou nie vir altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie, 6 hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is baie bly wanneer mense die waarheid praat.
7 Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig.
8 Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop.
9 Want ons weet net ’n bietjie, en ons bring net ’n bietjie van God se boodskap.
10 Maar eendag, wanneer alles is soos God dit wil hê, dan sal die dinge wat ons nou ken en het, nie meer nodig wees nie.
11 Toe ek ’n kind was, het ek dinge gesê soos ’n kind dit sê, ek het gedink soos ’n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos ’n kind. Maar toe ek ’n grootmens geword het, het ek die dinge van ’n kind gelos.
12 In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in ’n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer ’n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.
13 Daar is net drie dinge wat regtig belangrik is, en dit is: om aan te hou glo, om aan te hou hoop, en om lief te wees vir God en vir ander mense. Maar die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense.
Die eerste Pinkster
Met die eerste Pinkster het die Gees van God die apostels en omstanders gevul en hul lewens verander.
Die Gees het hulle aangevuur om liefde te betoon waar hulle kom. Handelinge vertel ons hoe die eerste gemeente eensgesind alles met mekaar gedeel het. Dit was in liefde gedoen.
Wanneer ons vandag die Nagmaal gebruik en Pinkster vier, laat toe dat die Gees jou vandag verander en beweeg om liefde vir God se mense jou prioriteit te maak en ten alle koste na te streef.
Kom ons wys die wêreld dat God se liefde groter as enige swaarkry of sonde is en dat Hy hulle kan vrymaak daarvan.
Ongelukkig kan jy dit nie doen voordat jy self eers aanvaar dat God jou lief het nie en al jou sondes en veral liefdeloosheid vergewe nie.
Gebruik die volgende oomblikke om sy liefde te gryp en onderneem om God te wys hoe lief jy Hom het deur liefde teenoor vriend en vyand te bewys!
Video van Crocodile Dundee: http://www.youtube.com/watch?v=01NHcTM5IA4
Gebed: Een van Ds Solly Ozrovech se Pinkster-gebede
Musiek: Lied 442:1,2 - Openingsgebed.
1. Bybels: NAV 1983; Die Bybel vir Almal. (Bybelgenootskap van SA)
2. Video clip: http://www.youtube.com/watch?v=01NHcTM5IA4
3. Liedboek van die NG Kerk
4. "What Is This Thing Called Love?"(1 Cor. 13:1-13), Bob Deffinbaugh, 06/08/2004, Published on Bible.org.
Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za