![]() |
Dominee.org.za Die Woord vir almal! |
Die mens is vinnig om hom/haarself te verontskuldig, maar 'n verhouding kom van twee kante af, die Here het alreeds alles gedoen om die verhouding te herstel, maar bly jy in dit wat Hy daar geplaas het deur Sy Seun Jesus Christus. 'n Oproep om jou verhouding met God te evalueer.
Inleiding:
Die Here is die kenner van die harte en die toetser van die niere, ons almal wat vanoggend hier is weet dit en ons glo dit, ons weet dat die Here Jesus die kenner van die harte is en die toetser van die niere is, Sy Woord leer ons dit in baie duidelike terme op verskeie plekke.
Psa (7:10) Laat tog die boosheid van die goddelose mense ‘n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!
Rev 2:23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.
Vanoggend is die vraag aan u, kosbare toehoorder, hoe lyk u hart vanoggend voor die kenner van die harte, wanneer Hy in u hart inkyk wat sien Hy ? As Hy vanoggend u niere toets wat vind Hy ? Wat bedoel die Woord wanneer daar gepraat word van die toets van die niere in Jer 12:2 skryf die profeet en hy sê:
Jer 12:2 U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
Hy praat van die volk van God wat die regte dinge sê, en oënskynlik dra hulle vrugte, hulle praat die regte goed, maar hulle is nie totaal oorgegee aan die Here nie, hulle dien nie die Here met hulle alles nie, nou wil ek u weer die vraag stel, as die Here wat die harte van die mens ken en die niere toets, vanoggend in u hart inkyk , wat sien die Almagtige God, as Hy u niere toets vanoggend, wat vind Hy, vind Hy ‘n lewe van absolute oorgawe en gehoorsaamheid aan Hom ?
Maar voor u antwoord kom ons lees in Jer 17
Skriflesing: Jer 17 : 1 – 13
Sonde maak dat jou hart hard word :
Die Here praat met Juda, Sy volk, en Hy sê aan hulle, julle sonde is geskryf met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van hulle altare –
Die van u wat in die boubedryf en tegnies agtergrond het in steenwerke sal weet dat wanneer daar gepraat word van ‘n “diamond head” boorpunt of diamond ‘edge’ grinding disc, dan is dit ‘n boorpunt of ‘n grinding disc wat geskik is daarvoor om harde materiaal deur te dring, ‘n gewone ‘masonry’ boorpunt gaan nie die werk gedoen kry nie. In Clocolan in die Vrystaat is daar ‘n gedeelte van die Malutiberge waar die manne sandsteen myn en ons was bevoorreg om een van die manne te ken wat daar op Clocalan sandsteen gemyn het, u weet dat sandsteen nie werklik een van jou hardste tipe klip is nie, maar hierdie man het masjiene geboue met elektriese motors met so vier of vyf ‘grinding discs’ wat dan met ‘n ketting getrek is oor die sandsteenplaat en dan het die werkers gekom en die sandsteen verder uitgehaal met hamer en met beitel, hierdie man het hierdie sandsteen uitgehaal in deursnee was dit so 20 – 30 mm dik en hierdie sandsteen is dan bemark as ‘cladding’, basies ‘n tipe van ‘n sandsteen teël en een van die eerste dinge wat hy geleer het in hierdie proses van sandsteen myn, was dat die normale ‘masonry’ grinding discs, hom nie vreeslik lank gehou het nie, dit het hom meer gekos aan die ‘grinding discs’ as enigiets anders en iemand beveel hom toe aan om die ‘diamond edged’ grinding discs te gebruik en daar kry hy die sandsteen makliker gesny en bewerk om dan te verkoop, maar waarom vertel ek u hierdie verhaal ? Want die sandsteen was hart en daar was geen beter manier as om die “diamond edge’ grinding discs te gebruik nie. Dus wanneer die Here aan Juda, Sy volk sê dat hulle sondes is met ‘n ystergriffel met ‘n diamantpunt op die tafels van hulle harte gegrif, uitgebeitel dan wys dit op die toestand van God se volk se harte, hulle harte is so hard dat dit nodig is om ‘n ‘diamondtipped’ griffel ( beitel ) te gebruik.
Die volk van die Here verkeer in doodsgevaar en hulle weet dit nie, want hulle hart is verhard deur hulle sonde, hulle neig nie hulle hart en hulle oor om te hoor wat die Here vir hulle wil sê nie, of hulle hoor, maar hulle luister nie !!
En nou gaan hy verder en sê hierdie sondes is gegriffel op die horings van hul altare, die horings van die altaar het besondere betekenis gehad, wanneer iemand per ongeluk ‘n ander mens doodgemaak het, dan kon hy vlug en as hy verby die tempelwagters en die priesters kon kom en aan die horings van die altaar vasgryp, dan kon die bloedwreker van die familie, waar die persoon dood is, hom nie wreek oor die dood van die naasbestaande nie. Die onskuldig het dan asiel verkry, ons lees dan ook in 1 Kon 2 : 28 dat Joab gevlug het na die tent van die Here en die horings van die altaar vasgehou het, Joab het die wet van God geken en met hierdie daad het hy dan uitgeroep vir genade, ons sien egter dat Salomo hom tog teregstel sodat die bloed wat Joab vergiet het, gewreek kons word, want u sien Joab was nie onskuldig nie, hy het twee onskuldige manne vermoor sonder die medewete van koning Dawid. Joab was dus skuldig aan moord, die twee manne wat hy doodgemaak het was nie per ongeluk nie, want as dit per ongeluk was sou hy genade gevind het. Nou sê die Here aan Juda, aan Sy volk, moenie dink dat wanneer jy die horings van die altaar gaan gryp dat jy dan genade sal vind nie, want dit is slegs die een wat onskuldig is, wat genade sal vind.
Hulle harte is hart en het verhard geword deur die sondes wat hulle gepleeg het, sonde het die manier dierbare toehoorder om jou hart hard te maak en jou oor doof te maak vir die soet sagte stem van die Heilige Gees. Dit wil amper voorkom of Juda was soos baie Christene vandag is, jammer om dit te sê, maar baie se harte is verhard deur die sonde wat hul in die geheim doen en dink niemand weet daarvan nie, God weet !! God ken jou hart !! Vandag doen hy die sonde en vanaand vra hy vergifnis vir dieselfde sonde en môre doen hy dit weer, hy doen sondebelydenis, nie omdat hy spyt is oor die sonde nie, maar oor hy geleentheid soek om dit môre weer te doen. Die Here sê aan Juda, selfs wanneer jy daar by die horings van die altaar kom, dan gaan die verhardheid van jou hart teen jou tel, want die Here verlang ‘n sagte hart, soos die pottebakker kan werk met sagte klei, so kan die Here werk met ‘n sagte hart, maar wanneer die pottebakker klaar die pot gemaak het van klei en die klei droog geword het, dan is die enigste manier hoe daar verandering gemaak kan word aan die kleipot, deur dit of te breek, of dit met ‘n hamer en ‘n beitel te doen, God verlang sagte harte om mee te werk.
‘n Harde hart is ‘n onbekeerlike hart, Juda dink hulle is reg met God, maar God sien dat hulle sondes in hulle hart ingebeitel is met ‘n ‘diamondtipped’ griffel.
Op wie vertrou jy ?
Israel het in hierdie tyd hulle gewend tot allerhande afgode sodat dit met hulle boerderye kon goed gaan, hulle het weggedryf van die enige ware God af en begin om vrugbaarheidskultusse aan te hang, die Here beskryf en beskou dit as geestelike hoerery om jou vertroue op enige ander ding/saak of mens te stel buiten op Hom alleen, Juda hoereer, weg van God af, hulle plaas hulle vertroue op nietige afgode en feilbare mense. Hulle buig hulle neer voor heilige boomstamme en dergelike dinge, maar gelukkig in 2011 is ons nie so dom nie, ons stel nie ons vertroue in afgode nie, wat ‘n skok wag op die mens, is u seker u volle vertroue is in die Here gestel, is u seker u vertrou volkome op Hom alleen vir redding, genesing en voorsiening ? Jy kan nie op die regering van die dag staat maak nie, baie mense in ons pragtige land plaas hulle hart op politici en op regeringsamptenare, hulle is feilbare mense !!!
Hoor wat sê God aan Juda, My berg, God se berg in die veld en al jou skatte, Juda, volk van God, in N.T terme, Christene jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam met jou hoogtes, weens die sondes in jou grondgebied, die skatte wat Juda s’n is, is die erfdeel wat die Here aan Sy volk gegee het, maar nou sê Hy aan Sy volk omdat daar sonde is, gaan julle alles verloor, julle gaan met niks uitgaan nie, julle sal arm wees vanweë die sonde in julle grondgebied. Jou hart is verhard en jy is besig met sonde, en dit gaan veroorsaak dat jy alles verloor, alles wat die Here in Sy groot genade aan jou geskenk het, hoor vanoggend kind van God, bekeer jou tot die Here met jou hele hart !! Rig jou hart volkome op die Here alleen.
Hoor hoe begin vers vier, en jy sal uitval, as jy nie jou hele lewe en jou hart rig tot God nie, hoor vanoggend dan sal jy uitval en jy gaan niemand die skuld kan gee nie, nie die kerk nie, nie die bestuursraad nie, nie die pastoor nie, die die gemeente nie, want die Woord sê : jy sal uitval en dit deur jou eie toedoen – jy sal uitval deur jou eie toedoen ! o God help ons !! Waaruit gaan jy uitval, jy gaan uitval uit die erfenis wat God jou gegee het deur Jesus Christus, jy gaan van die genade verval, is dit moontlik om van die genade te verval, ja dit is,
Gal 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
Jy kan nie net van die genade van God verval nie maar ook daarin veragter:
Heb 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
Heb 12:15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.
Juda het genade gebruik as ‘n vrybrief vir sonde, om maar net aan te gaan en aan te gaan, maar God sê aan Juda, jy gaan uitval en dit deur jou eie toedoen,kind van God jy gaan uitval van die onverwelklike, onverganklike en onbesmette erfenis wat in die hemele bewaar is vir ons, wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd, deur jou eie toedoen. Die Here sê aan Juda in ‘n vreemde land sal julle julle vyande dien want julle het ‘n vuur aangesteek in my toorn, en dit sal tot in ewigheid brand. Dierbare kind van God, wanneer jy uitval uit jou erfdeel wat die Here aan jou gegee het, gaan jy jou vyand dien in ‘n vreemde land, in ‘n land wat jy nie ken nie, dierbare kind van God, my en jou vyand is die duiwel wat rondloop soos ‘n brullende leeu en soek wie hy mag verslind. Indien jy nie toelaat dat jou hart sag en week word voor jou Verlosser en Here nie, gaan jy jou vyand dien in ‘n land, op ‘n plek wat jy nie ken nie, moenie laat dit gebeur nie, toehoorder, wie wil u dien ? Die Here wat God is en wat u so liefgehad het, dat Hy Sy eniggeborene Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê, of die dief wat gekom het om te steel, te slag en te verwoes ? As jy uit die genade verval, as jy uitval, deur jou eie toedoen, gaan jy sandduine in die woestyn rondskuif. Juda het nie gehoor gegee op hierdie oproep nie en hulle het in ballingskap beland, moenie dat sonde veroorsaak dat jy in ballingskap beland en bly nie, Jesus het gekom om jou vry te maak, vry te maak van die sonde !!
Wie van God weggaan, kom bedroë daarvan af:
Die man wat op die mens vertrou, die Here sê so ‘n persoon is vervloek, die mens wat vlees sy arm maak, wat op feilbare mense steun is vervloek want wat nou gebeur is dat die mens wat op ander mense vertrou sy hart wyk af van die Here af, sy hart neig hom tot die skepsel eerder as tot die Skepper, wanneer jy op enige mens vertrou vir voorsiening gaan jou hart afwyk van God af, wanneer jy op enige mens vertrou vir genesing gaan jou hart afwyk van God af, wanneer jy op die mense vertrou vir redding gaan jou hart afwyk van God af, God wil hê dat jou hart onverdeeld op Hom gerig moet wees, jou hart moet op Jesus Christus gerig wees vir redding, voorsiening, genesing en alles wat jy nodig het.
In verse 5 – 8 word twee soorte mense met mekaar vergelyk in vers vyf en ses vind ons die kaal uitgedorde bossie wat in woestynvlaktes staan en hy sal nie eers sien as die goeie kom nie, hoe verskriklik moet dit wees as jy op ‘n plek is waar jy nie eers die goeie na jou toe sien aankom nie. Wanneer jy op feilbare mense vertrou dan is jy daar in die dor plekke in die woestyn, in ‘n brakkerige en onbewoonde land. Die kaalgestroopte bossie is die beeld van die mens wie se ‘wortels’ in menslike mag rondsoek na sy lewensvog en voedsel.
Daarenteen is die man wat se hart sag en onverdeeld op die Here gerig is soos ‘n immergroen plant, want hy steek sy wortels uit na die lopende lewende water,. God self uit en kry voortdurend nuwe krag en dit herinner sterk aan Psalm 1 wat sê dat hy wat die Woord van die Here dag en nag oordink sal wees soos ‘n boom geplant by waterstrome wat vrugte gee op die regte tyd. Die man en die vrou wat hulle vertroue volkome in die Here stel word ook nie so erg geraak deur die seisoene van die lewe nie, hulle vrees nie as daar hitte kom nie, hulle vrees nie as daar vervolging kom nie, die blad bly groen, die boom bly mooi, die wat op die Here vertrou wanneer daar vervolging kom, rafel nie uit nie, en as daar droogte is, droogte is die gebrek aan reën, as daar gebrek kom is die man en die vrou wat se lewens en harte gevestig is in die Here dan is hulle nie bekommerd nie, want hulle weet die Here voorsien en hulle hou nie op om vrugte te dra nie, die Hebreërskrywer sê dat die vrug van die lippe wat Jesus se Naam bely is ‘n lofoffer deur Jesus Christus tot God, m.a.w al is daar gebrek en swaar hou hulle nie op om God te eer en te loof en te prys nie.
In vers 9 – 10 vind ons dat die Here aan Juda sê, ek weet wat in julle harte aangaan, julle kan mense ‘n rat voor die oë draai, julle kan mense flous, maar Ek, sê God is die een wat die harte ken en nie net deurken nie, maar ook deursoek en die niere toets. Wat kry Jesus as Hy vandag deur jou hart loop en dit ondersoek ? Jy sal maai dit wat jy gesaai het, Galasiërs 6 stel dit so duidelik :
Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
U sien dierbares vir my en vir enigiemand as mens is dit moeilik om die “karoobossie” en die “immergroen struik” met die blote oog te onderskei van mekaar, die gehoorsame en die ongehoorsame, die ‘selfstandige’ ( die persoon wat so seker is van homself dat hy/sy dink hulle het God nie nodig nie ) en die afhanklike is nie maklik uit te ken nie; maar God weet wat daar in die diepste bewuste en onderbewuste gedagtewêreld van die mens aangaan, en Hy vergeld elkeen n.a.v wat daar in die oordenkinge van die hart plaasvind.
Geen mens kan ‘n ander mens se hart ken nie, maar God ken die harte van ieder en elke een wat vanoggend hier sit en meer as dit Hy ken nie net elkeen se hart nie, hy deursoek ook die hart en toets die niere, wat kry Jesus as Hy vanoggend jou hart deursoek ?
In vers 11 word daar verwys na ‘n saak wat baie mense vandag ook sien soos Juda dit op hierdie tydstip gesien het, en dit is dat wanneer iemand ryk is dan is dit omdat die Here hom seën en dit is so dierbares die Woord van die Here leer ons dat dit die seëning van die Here is wat ryk maak ( Spr 10:22) en dat Christus ter wille van ons arm geword het, sodat ons deur Sy armoede goddelike rykdomme kan besit. ( 2 Kor 8: 9 ). Baie mense is vandag ryk omdat God hulle seën, maar nie almal wat ryk is, is ryk omdat die Here hulle seën nie, daar is ook die wat op skelm maniere ryk word, net soos wat dit was in die tyd van Jeremia en dit onder die volk van God, Juda, so is dit vandag onder baie Christene, die Here sê so ‘n persoon is soos die voël wat eiers uitbroei wat hy nie gelê het nie, so is die persoon, die man en vrou wat op oneerlike manier ryk geword het en iewers wanneer hy dit die minste sal verwag sal hy dit moet laat staan en in sy einde sal hy dwaas wees.
En God vergeld elkeen volgens sy werke.Op ’n dag sal die oneerlike ryke uitvind dat sy “neseier” onder hom uit weggeraap word en dan sal almal sien dat God sy oordeel gevel het deur vir hom met sy oordeelsdaad te sê:Jou dwaas http://dominee.co.za/components/com_jce/editor/tiny_mce/plugins/anchor/img/anchor.gif); background-attachment: scroll;">[1]
Nou kom die Woord van God en leer ons dit is die beste om by die Here te bly om aan Hom vas te hou in nederigheid en ootmoedigheid en om te weet dat Hy alleen is die Bron van alle goeie dinge. Die mens wat op die Here vertrou is by die fontein van die lewende water, almal wat die Here verlaat sal beskaamd staan, wie afwyk van God af se naam sal op die aarde geskryf word, dierbares die Woord leer ons die plek waar ons ons name geskryf wil hê is in die boek van die lewe, want elke een wie se naam nie opgeskryf is in die boek van die lewe van die Lam nie, die sal in die poel van vuur gewerp word, die tweede dood waarvan die Bybel praat in Openbaring 20:14 – 15. Wanneer jy God verlaat word jou naam op die aarde geskrywe, maar wanneer jy by God bly en in Sy genade groei en jou wortels in Hom het dan word jou naam geskrywe in die boek van die lewe. Halleluja ! Halleluja !!
Samevatting en slot:
In vers 14 roep Jeremia uit, want hy is ook deel van die volk, hy is deel van Juda, hy roep uit:
Jer 17:14 Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.
Die profeet weet dat as die Here gesond maak, dan is daar ware genesing, hy weet as die Here Jesus verlos dan is daar ware verlossing.
God ken vanoggend die toestand van jou hart, vir my en vir andere mag jy vanoggend van buite af lyk en ruik en klink soos die grootste Godsman en Godsvrou, maar die Here en u weet wat werklik in u hart skuil vanoggend, moenie soos Juda wees vanoggend en nie gehoor gee aan God se Woord nie, moenie jou hard verhart nie, God verlang ‘n sagte hart, God wil aan jou ‘n hart van vlees gee, Hy wil die klipharde hart uit jou binneste neem en vir jou ‘n hart van vlees gee, miskien sê u vanoggend, maar ek het al my saak met die Here reggemaak, Juda het ook so gesê in hulle oë was hulle reg, maar God sê jou hart is so hard dat ‘n “diamondtipped” griffel nodig is om daarop te skryf. Hy waarsku vanoggend as jy nie toelaat dat God jou hart sag maak nie, gaan jy uitval en jy gaan niemand die skuld kan gee nie.
Moenie jou vertrou in mense en bygelowe plaas nie, plaas jou vertroue op God en op Hom alleen, plaas jou vertroue in Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld. Vanoggend lyk jy vir mense soos ‘n immergroen plant, maar God sien dat jy ‘n “karoobossie” in brak grond is. Die Here deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge. Wat gaan die vrug van jou handelinge wees ?
Hoor vanoggend, God wil nie hê dat jy moet uitval uit jou erfdeel nie ! Hy wil hê dat jy by Hom die fontein van lewende water moet bly.
Uitnodiging:
Hoor die stem van God vanoggend met jou praat deur Sy Woord:
Joe 2:12 Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.
Joe 2:13 En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God;want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
Luk 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.
Hos 13:6 Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.
Het jy dalk jou God vergeet omdat dit met jou goed gaan, het jou hart verhard geraak deur hoogmoedigheid omdat jy reken dat jy niks nodig het nie, hoor vanoggend die Woord van God,
Skeur jou hart en nie jou klere nie !! Bekeer julle tot die Here julle God !! God praat met Sy volk, Hy praat met Sy kinders, jy het begin om op die arm van vlees te vertrou en jou hart het begin afwyk van God af, Skeur jou hart en nie jou klere nie want :
Psa (51:19) Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
Sedekia was die laaste koning van Juda en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en hy het hom nie gesteur aan die Woord van God wat deur die profeet Jeremia tot hom gespreek is nie, hy het hom nie voor God verootmoedig nie, in 2 Kron 36:13 lees ons ...” maar hy was hardnekkig en het sy hard verhart, sodat hy hom nie tot die Here, die God van Israel, bekeer het nie.” In vers 16 sien ons dat die koning en al die manne van Juda die booskappers van God uitgelag het, maar in vers 17 sien ons dat God die koning van die Chaldeërs laat optrek het teen Jerusalem en hoedat die voorwerpe in die tempel weggevoer is na Babel, die mense wat nie gedood is nie is in ballingskap weggevoer, die tempel en die paleise is verbrand en die mure van Jerusalem is omgegooi. Juda het uitgeval uit sy erfdeel.
Moenie uitval uit jou erfdeel, deur jou eie toedoen nie, draai jou hart volkome na God toe, plaas jou vertroue volkome in die kruis van Jesus Christus.
Skeur vanoggen jou hart en nie jou klere nie, bekeer jou tot die Here jou God, roep saam met Jeremia uit :
Jer 17:14 Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.
Inleiding:
Jare terug toe ek nog sommer ‘n klein seuntjie was, was daar aan my pa se kant van die bed teen die kamermuur ‘n prent geplak wat van die P.P.K se tydskrif afgekom het, wat my seker altyd sal bybly, dit was van ‘n man wat in ‘n geploegde land sit, met die ploeg en die os so ‘n entjie agter hom, hy het op sy knieë gesit, met die Bybel voor hom oop, terwyl sy gesig en hande hemelwaarts gerig was en dan bo aan was die woorde van vers 3 aangehaal, “braak vir julle ‘n braakland” as jong kind het ek dit nie regtig verstaan nie, maar tog het dit my bygebly, en terwyl ek in die week stil word en die Woord van God oopmaak en die gedeelte lees toe ek onthou ek ewe skielik, asof dit gister was wat ek gestaan het en vir my pa gevra het wat staan daar bo op die blaai geskryf ? God is groot, en die Here maak hierdie Skrif vir my so mooi oop en ek besef weereens hoe belangrik gebed is in die kind van die Here se lewe, hoe belangrik dit is om stil te word om God se stem te hoor, om Sy Woord oop te slaan en te lees.
‘n Ander saak wat weereens tot my deurgedring het, al verstaan jy nie wat jy op daardie oomblik lees nie, moenie net opgee en sê jy verstaan nie, vra die Here om dit vir jou oop te maak of duidelik te maak, dit is waarom Jesus ons die Heilige Gees nagelaat het om ons te leer en te lei in die volle waarheid, al word dit nie dadelik vir jou duidelik nie, dit sal wel op die regte tyd vir jou oopgaan.
God se Woord is onfeilbaar en bereik altyd dit waartoe Hy dit stuur, die Woord van God keer nooit ledig terug nie.
Isa 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Hierdie hoofstuk begin met die dringende oproep van God tot Sy volk om hulle te bekeer, te bekeer tot Hom, die God van hemel en aarde, die God wat hulle uit slawerny uitgelei het, uit Egipteland gelei het, Hy roep Sy volk om weer terug te draai na Hom. Egipte is ‘n tipe van die slawerny van sonde, die dag toe jy Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker het Hy jou uitgelei uit die slawehuis van sonde en Hy het jou ingelei in die huis van die Vader, jy het deel geword van die huis van God. Israel, die volk van God, word opgeroep tot bekering !! Wat beteken bekering ? Kom ons staan ‘n ppmblik stil by die woord bekering.
be•ke´ring (-e, -s)
1.Verandering van hart, afkeer van die sonde: Tot bekering kom, bring.
Verandering van hart, God roep Sy volk op om ‘n hartsverandering te ondergaan, so roep Hy vir jou en my vandag om ‘n hartsverandering te ondergaan, om toe te laat dat Hy jou hart weer aanraak. God se volk word opgeroep tot bekering, maar duidelik word gespesifiseer, bekeer jou tot My, m.a.w verandering van hart tot MY, God wil dat jy jou hart op Hom plaas, dat jy jou hart fokus op God. Wanneer jou hart tot God gerig is wanneer jy jou bekeer tot God, dan hoef jy nie rond te swerwe nie, want jy het tuis gekom by die Koning van die konings. In hierdie lê daar ook vir jou en my ‘n waarskuwing, God praat met Sy volk, om hulle op te roep tot bekering, Hy praat nie met heidene nie, Hy praat met Sy volk. Dit het gebeur dat Israel begin het om hulle verwagting in ander plekke en ander afgode gesit, nou roep God hulle om hulle harte tot Hom te wend, dan sal hulle nie hoef te swerwe nie.
Vandag is die vraag vir jou en my, wat het dalk veroorsaak dat ons harte gefokus geraak het op ander dinge as Christus Jesus, iets of iemand anders as God Almagtig ? Vestig jou hart op God, wanneer daar gehoor gegee word aan hierdie oproep tot bekering dan sal jy sweer, of ‘n eed aflê met die woorde: “So waar as die Here leef ! in waarheid, in reg en geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën an hulle in Hom beroem. Die nasies rondom die volk van God sal deur God geseën word, hulle sal hulleself in Hom seën, ons is geseën in Jesus Christus, onthou dat Jesus nie net die Seun van God is nie, maar God self. En hulle in Hom beroem. Wanneer my en jou hart onverdeeld op God gevestig is, dan sal ons geseënd wees in Hom, en die wêreld daarbuite sal weet, dat Jesus leef, want hulle lees baie keer nie die Bybel nie, jy is die enigste Bybel wat sommige mense ooit sal lees, wat lees mense in jou lewe, lees hulle in jou lewe dat jou hart onverdeeld op God gerig is. Indien jou hart vandag nie onverdeeld op God gerig is nie, gee gehoor aan die oproep tot bekering, die oproep tot die verandering van hart tot God.
2. Detail van die oproep tot bekering( verandering van hart) :
Die Here sê aan die manne van Juda en Jerusalem: “Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie” Braak vir julle ‘n braakland, dit klink snaak as ‘n mens dit die eerste keer hoor of lees veral indien jy nie weet wat die woord “braak” binne hierdie konteks beteken nie, ‘n braakland is ‘n nuwe land wat omgeploeg is en net so gelos is:
braak werkwoord. (gebraak)
Nuwe grond omploeg om dit dan so te laat lê sonder om dit te besaai. selfstandige naamwoord: Grond wat gebraak is.
Die opdrag van God is, braak vir julle ‘n braakland, met ander woorde, ploeg jou hart opnuut oop, maak jou hart gereed om saad te ontvang, maak jou gereed om die Woord van God te ontvang.
Die Here sê aan Heidelberg: Braak vir julle ‘n braakland, maak die grond van jou hart reg om die lewende Woord van God te ontvang, die Here gee hier detail van die oproep tot bekering, die oproep tot ‘n hartsverandering, Hy sê wanneer jy jou hart verander om onverdeeld op Hom gerig te wees dan moet jy ook die nuwe grond omploeg, jy moet ontslae raak van die verfoeisel in jou hart, die dinge wat jou soms laat wonder of God regtig in beheer is, raak ontslae van die dorings en distels en alles wat kan keer dat die grond vrugbaar sal wees. God sê maak jou gereed om die Woord van God te ontvang, net nadat Hy die opdrag gee om ‘n braakland te braak voeg hy by, moenie saai tussen die dorings nie !! Hoor die Woord van God vanaand, en saai nie onder die dorings nie, moenie onder die dorings saai nie, geliefdes. Uit die gelykenis van die saaier weet ons dat die saad die Woord van God is en dat die dorings die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom is wat veroorsaak dat die saad, die Woord, verstik word en word onvrugbaar.
Mat 13:7 En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
Mat 13:22 En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.
Hoe braak jy vir jou ‘n braakland, jy spandeer tyd op jou knieë, tyd in gesprek met God, jy spandeer tyd met gebed, jy laat toe dat God met jou spreek deur Sy Gees, en wanneer jou hart gereed is laat die saad geplant word in jou hart, maar moenie onder die dorings saai nie ! Moenie die Woord van God ondergeskik stel aan die sorge van hierdie wêreld nie, moenie laat bekommernis die Woord van God in jou lewe verstik nie, moenie dat die jaag na geld waarmee die wêreld en so baie mense behep is mee vandag, moenie dat hierdie dinge die Woord in jou lewe verstik en jy onvrugbaar word nie. Onthou dat dit nie geld is wat boos is nie, maar wel die liefde vir geld, geldgierigheid.
1Ti 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.
Maak die grond van jou hart gereed om die Woord van God te ontvang !! Maak seker dat jou hart tot gerig is, braak vir jou ‘n braakland deur gebed. Dit gaan nie altyd maklik om ‘n nuwe stuk grond om te ploeg nie, daar mag miskien klippe onder die grond wees wat nie sigbaar is as jy bo-oor loop nie, maar wanneer die ploeg daaroor gaan, of teen hom stamp, dan weet jy dit is daar, net so wil die Here hê dat jy jou hart moet voorberei om Sy Woord te ontvang en te saai, die bekommernisse en sorge van hierdie lewe is baie keer die klippe wat onder die oppervlak lê, wat niemand anders van weet nie, maar God weet daarvan want Hy is die kenner van harte en wil ook nie hê dat die saad moet val op ‘n plek waar dit net maar ‘n entjie gaan groei en dan gaan doodgaan van die hitte van die son nie, maar dat dit sal val en wortelskiet en groei en vrug dra, maak jou hart gereed om die Woord van God te ontvang !!!
Hy gaan verder en sê, besny julle vir die Here, en onmiddelik het die volk van God, Israel, gesê maar ons is dan besny toe ons agt jaar oud was !! Hoe kan ons ons nou weer besny ? Amper soos Nikodemus toe Jesus vir Hom sê dat Hy weer gebore moet word, toe vra hy maar hoe kan ek weer gebore word, en Jesus sê vir Hom as jy nie weer gebore word uit water en gees nie, kan jy die koninkryk van God nie ingaan nie. Jy sê dalk vanaand ek is klaar tot bekering gekom, jare terug al, die Here het my al jare terug uit die slawehuis van sonde uitgelei en verlos. Die Here gaan verder en kwalifiseer die besnydenis wat Hy verwag : “verwyder die onbesnedenheid van julle hart” verwyder die dinge wat God se Woord verstik in jou lewe, hoor vanaand weer die oproep tot bekering en die oproep om ‘n braakland te braak en nie te saai onder die dorings nie !!!
3. Die oproep tot bekering word afgesluit met ‘n waarskuwing:
Hierdie gedeelte word afgesluit met ‘n kort maar ernstige waarskuwing bekeer julle dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge !! Wanneer jou hart nie tot God bekeer is nie, wanneer jou hart nie onverdeeld op Hom gerig is nie, gaan daar dinge hulleself in jou hart kom tuismaak, dinge soos slegte gesindhede, dinge soos bekommernis ensovoorts en ongelukkig wanneer die dinge in jou hart kom lêplek maak, gaan dit jou handel en wandel in jou daaglikse lewe beïnvloed, want wat in jou hart is gaan deur jou mond uitkom en dit is wat jou onrein maak, die slegte gedagtes.
Mat 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
Mat 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak
Mat 12:34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
Hoor vanaand die Woord van God: Braak vir jou ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie ! Verwyder die onbesnedenheid van jou hart, neem weg uit jou hart dit wat die Woord van God onvrugbaar maak in jou lewe.
Samevatting en slot:
Ons weet dat die volk van God, Israel nie gehoor gegee het aan hierdie boodskap nie, en dat hulle uiteindelik in ballingskap weggevoer is, na Babel toe. Kind van God wat gaan u vanaand met die Woord van die Here maak, gaan u soos Israel van ouds, jou maar net nie steur aan die Woord van God nie, of gaan u gehoor gee aan God’s Woord en vir u nuwe grond omploeg en nie saai onder die dorings nie ? Die keuse is vanaand joune ! Wat gaan jy maak ? Gaan jy vir jou ‘n braakland braak deur gebed ? Gaan jy jou hart gereed maak om die onverganklike saad, die Woord van God te ontvang en seker maak dat jy nie die Woord van God ondergeskik stel aan jou sorge en bekommernisse van die lewe nie.
Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie ! Kom vanaand en maak die besluit om in 2011 ‘n braakland te braak en nie saai onder die dorings nie, knap jou gebedslewe weer op !!! Sodat jou hart gereed is om die Woord van God te ontvang.
Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za